[Christina Bradley]
Het jy al ooit gelyktydig probeer sing, dans en toneel speel sonder om oor jou eie voete te struikel of die verkeerde noot te sing?
Dit is presies wat ek en nege ander DF-leerders die vakansie by juffrou Eygelaar se werkswinkel oor musikale teater moes doen. Oor die verloop van slegs twee dae, het ons basiese konsepte en vaardighede aangeleer en toegepas deur ’n kort dans- en sangstuk van ons eie op te voer op die liedjie “Babydoll” van Jamie Miller.
Ons het die liedjie aangeleer, solo’s bygesit en toe die danspassies bygeleer. Dit was werklik iets om te sien. Juffrou Eygelaar lyk soos ’n professionele danser. Ons het dit eers na ’n ruk gesnap, maar dit was nog steeds moeilik.
Met die eerste oogopslag lyk musikale teater maklik. Hoe moeilik kan dit nou eintlik wees om ’n dansie, ’n paar note en ’n paar woorde te leer?
Wel … eintlik baie moeilik!
Jou eerste indruk van hierdie tipe opvoerings is hoe maklik die akteurs dit laat lyk, maar agter die skerms verg dit maande se harde werk om so ‘n hoë gehalte produksie op die planke te bring. Dit lyk nie so nie, maar dis baie moeilik om ’n noot te hou as jou lyf in alle rigtings moet ruk.
Juffrou Eygelaar het vir ons baie waardevolle inligting geleer oor die wêreld van musikale teater. Wat dit is, wat dit behels en hoe om jou beste te gee en nie jouself met ander te vergelyk nie. Sy het selfs vir ons geleer hoe om ’n lied te ontleed op die korrekte manier sodat al jou sang-, toneelspel- en danselemente in balans is.
Elkeen van ons moes ’n liedjie uit ’n musiekblyspel bring, wat ons graag wou opvoer. Ons het toe die liedjie ontleed as ’n monoloog om die toneelspel van die stuk te verstaan en daarna danspassies bygesit. Eers nadat dit alles geïntegreer word, kan jy die note van die lied bysit.
Almal het toe hul stukke opgevoer en terugvoer van Juffrou gekry wat ek nog lank gaan onthou en gaan gebruik om my spel te verbeter. Die werkswinkel was werklik die moeite werd om by te woon. Jy hoef nie te kan dans of sing om deel te neem nie en niemand word as minderwaardig gesien as hulle nie iets kan doen nie. Dit was ’n wonderlike en opbouende ervaring.
Aangesien juffrou Eygelaar hierdie werkswinkel as ’n beginnersklas beskou het, sê sy dat sy graag een of ander tyd ’n intermediêre werkswinkel ook wil aanbied om leerders nóg meer te leer oor hierdie vorm van teater.
En wie weet? Dalk is dit goeie voorbereiding vir die moontlike revue wat dalk volgende jaar by DF gaan plaasvind. Juffrou Eygelaar sê min, maar die kinders wag in spanning en afwagting om te sien of ons regtig ’n revue gaan aanbied.
Baie dankie aan juffrou Eygelaar vir al haar harde werk en moeite wat sy vir ons dié vakansie gedoen het. Almal het dit geniet en waardevolle lesse geleer.
Christina Bradley
Christina is beslis ‘n sosiale persoon wat nie sommer jou naam gaan vergeet nie. Sy is mal oor musiek en kan nie daarsonder leef nie. Sy gee ook alles op die hokkieveld en sal enige tyd ‘n goeie boek vir jou kan aanbeveel.
