[Magriet de Klerk]
Die DF-koor het in 2026 verskeie prestasies bereik. Hulle het die Hoërskool Gemengde Kore-afdeling van die ATKV-Applousfinaal gewen, wat beteken dat hulle die beste gemengde koor in Suid-Afrika is. Die DF-koor het ook hul kategorie by die Tygerberg Internasionale Eisteddfod Gala-aand gewen.
Wie is die persoon agter al hierdie sukses? Wie is die persoon wat tot laat sit en die perfekte koorstukke uitkies? Wie is die persoon wat seker maak dat elke lid van die DF-koor met die perfekte tegniek sing?
Dit is niemand anders as meneer Jade Paige nie. Daarom het ons ʼn onderhoud gevoer met meneer Paige om meer uit te vind oor hom en sy bydrae tot die DF-koor.
Wat is Meneer se gunstelingstemgroep?
My gunstelingstemgroep is maar die tenore, want ek is self ʼn tenoor.
Wat behels Meneer se musiekagtergrond en wat het Meneer laat besef dat Meneer ʼn koordirigent wil word?
Ek het grootgeword in ʼn klein dorpie met die naam Heidelberg. Daar was kultuur ʼn groot ding, so jy het gesing in die kerkkoor of gespeel in die orkes wat daar was. Ek het grootgeword met musiek; daar was heeltyd net musiek. My pa was ook ʼn koordirigent, so ek het ook elke dag in kooroefeninge gesit – dit was my hele lewe. Ek het later Oudtshoorn toe getrek, daar musieklesse begin neem en toe in matriek besluit dit is my passie; dit is wat ek met my lewe wil doen. Ek het toe musiek gaan studeer by die Universiteit Stellenbosch en hier is ek nou vandag.

Wat is vir Meneer die uitdagendste aspek van die DF-koor?
ʼn Fyn balans tussen dissipline en pret. Ek wil altyd hê dit moet ʼn lekker spasie wees om van deel te wees van, maar dan wil ek hê ons moet ook goed doen. Dit beteken daar moet ʼn baie mooi middeweg wees tussen “hierdie is ʼn lekker plek om te wees” maar dit is ook “‘n plek waar ons hard moet werk en fokus” sodat ons ons doelwitte kan bereik.
Daar is gereeld hierdie jaar gesê dat die koor se repertorium beter is as ooit tevore. Hoe het Meneer op al die koortreffers besluit?
Ek kies gewoonlik een moeilike stuk, dan weet ek dit is die stuk wat ons eerste moet begin aanleer. Hierdie jaar was dit The Water Dance of Lluvia. Daarna het Juan Visagie en Lisemarie van Dyk Planete aan my voorgestel, wat glad nie op my radar was nie. Ek het daarna gaan luister en dadelik geweet die koor sal dit vreeslik goed kan sing. Ek het geweet as ons daardie twee stukke goed kan aanleer en goed kan optree, is die kanse dat ons goed sal vaar in ons kompetisies baie sterk.
Wat was Meneer se verwagtinge vir 2026? Het Meneer aan die begin van die jaar op die koorkamp gedink dat die koor die vermoë het om Applous te wen?
Nee, elke jaar is dit dieselfde: Jy begin met stukke en dit klink oukei en dan dink jy, miskien sal ons dit kan doen, maar dit hang regtig af van die koor. Die koor moet belê en besluit om hard te werk om die repertorium wat ons het werklik ʼn sukses te maak. So, ek dink hierdie jaar se koor het regtig ingekoop en gehou van die musiek en daarom so hard gewerk om dit ʼn suksesvolle jaar te maak.
Meneer rig drie kore af, sing self in ʼn koor en is ongelooflik betrokke by die skool. Hoe hou Meneer kop bo water en kom by alles uit?
Vanaf universiteit het ek ʼn baie besige lewe gehad, want ek het geweet dat die industrie waarin ek werk nie maklik is nie, veral nie waar ek vandaan kom nie. Ek het geweet vir my om regtig te floreer in die musiekindustrie, sal ek baie hard moet werk om te kom waar ek wil wees. So, ek is gewoond daaraan om so besig te wees. Ek het van die begin van my loopbaan af ekstra dinge gedoen, soos kore afrig en klein gemeenskapsprojekte doen net om mense in die industrie beter te leer ken. Ek het selfs in mense, wat vandag my kollegas is soos Laerskool Gene Louw of Hoërskool Bloemhof se afrigters, se kooroefeninge gaan sit net om te sien wat hulle doen sodat ek kan leer hoe die industrie werk. Ek dink al die dinge wat ek gedoen het op universiteit en aan die begin van my loopbaan, het my geleer om my tyd goed te bestuur en dit help my tot vandag toe nog om kans te kry vir alles in my besige program.

Wat is een ding wat Meneer wens meer mense van die DF-koor weet?
Mense sien net die eindproduk en wat op die oppervlak is, maar daar is eintlik soveel meer. Dit is soos ʼn sportwedstryd: Jy sien net die goed of die sleg, maar dit wat regtig ingesit is in daardie goed of sleg is ʼn hele proses … Mense sien dit nie altyd raak nie. Hulle is nie by oefeninge of vergaderings waar daar beplan word, video’s gekyk word en musiek gekies word nie. Ek dink ook nie mense besef watter spasie dit in die skool skep nie. Ek het al kinders sien groei van graad 8 tot graad 12 en dan kan ek nie glo dit is nog dieselfde persoon nie, omdat hulle so ʼn oulike kind geword het, net as mense.
Die 2026-koorseisoen is amper op sy einde. Is daar enige iets wat Meneer anders sou doen as Meneer die jaar kon herhaal?
Nee, ek sou niks anders wou doen nie! Ek sou net baie graag met hierdie jaar se koor en program êrens wou gaan toer, buite die Kaap, waar ons die musiek verder kan deel. Dit sou wonderlik wees om hierdie jaar oorsee te gaan, maar ongelukkig het ons nou nooit daardie geleentheid gehad nie.
Was daar enige oomblikke waar die koor Meneer verbaas het?
Ja, dit was die Maandag voor Applous. Ek het geweet as ons by Applous gaan optree soos ons in daardie oefening gesing het, was daar ʼn groot kans dat ons Applous sou kon wen.
Wat is Meneer se grootste doelwit vir die DF-koor in 2027?
Ek dink om nederig te bly – net omdat ons gewen het, beteken nie ons hoef te verander nie. Ons moet altyd strewe om die beste musiek te maak wat ons kan en dit te geniet terwyl ons dit doen. Daar is iets spesiaals aan ons koor. Na ʼn optrede kom sê mense altyd vir my dit voel anders om na ons te luister as ander kore. Ons moet daardie spesiale element nooit verloor nie.

Meneer Paige is ʼn groot aanwins vir die koor sowel as die skool en ons wens hom sowel as die koor alle sterkte toe vir die koorseisoen van 2027.
Magriet de Klerk
Wanneer Magriet nie op die rugbyveld of die koorbankie is nie, is sy beslis besig om te verdwaal op Tafelberg.
