[Ella Smit]
Vandag se reg en verkeerd is ’n oordonderende, subjektiewe skaduwee wat die meeste van ons insluk. Sosiale media het ons vermoë om self menings te vorm – deur ons eie ervarings – vernietig met die mensdom se drang tot ’n makliker alternatief.
Die internet se eindelose sleurstroom van inligting dryf sommige van ons na die Atlantiese Oseaan en ander na die Stille Oseaan toe – afhangend van ons voorafbestaande oortuigings in terme van politiek, seksualiteit, geloof en die reg. Hierdie sterk strome is egter nie gedryf deur betroubaarheid nie – eerder deur die hardste stem met die oortuigendste taktiek.
Dis geen geheim dat die wêreld tans talle kwessies ervaar nie. Politieke leiers trap op mekaar se tone totdat die skoensool dun genoeg is om ’n bom te laat bars. Klimaatsverandering bring ’n super El Niño van uiterse klimate. Rassisme, geslagsgebasseerde geweld en homofobie oorspoel die meeste van ons tot absolute moedeloosheid. Dit is net natuurlik dat ons op hoogte wil bly van die gebeure.
Die moderne mensdom het aanbeweeg van verslawing aan sigarette, drank en dwelms na ’n nuwe uitlaatklep. In plaas van ’n trek wat absolute ontspanning binne jou kweek, is ’n trek nou ekwivalent aan die diep sloot van angs. In plaas van ontsnapping vind van sosiale spanning, werk of persoonlike uitdagings, het jongmense ontsnapping van die lewe nodig. Soos wat sigarette, dwelms en drank newe-effekte het, het die onsinnige misbruik van sosiale media ons eie tikkende tydbom meegebring.
Omdat Gen Z en Gen Alpha dikwels sukkel om in stilte met hul eie gedagtes te sit, wat nog te sê vir meer as agt sekondes aan die lewe buite hul skerms aandag gee, is die doelbewuste soek na die geldigheid van daardie een tannie op jou foon se woorde hoogs onwaarskynlik.
Daar het onlangs ’n video op sosiale media verskyn wat baie aandag getrek het nadat beweer is dat ons terug in 2007 sou wees indien ons alle sosiale media uit ons lewens sou verwyder. Die donker waarheid is egter dat die lewe – in plaas van in volle teenwoordigheid geleef word – een sou wees van absolute eensaamheid.
Die oorsprong van hierdie onrealistiese idee is egter een wat gegrond is in melancholiese nostalgie vir ’n tyd waarin van ons nog nie eens gebore was nie. In Casey Simpson se YouTube–video, I hate this video so much, beweer hy die volgende: Vandag volg ons dalk 800 mense op sosiale media en ons voel asof ons hulle ken. Tog, as ons dit vergelyk met die wêreld voor sosiale media waar jy dalk kontak gehad het met 35 mense op ’n slag, het jy dan werklik elkeen geken. Daar was toe ’n veel dieper konneksie met die mense om ons.
Ons het nou ’n drang om die atmosfeer van flieks en reekse soos 10 things I hate about you, The Office en 13 Going on 30, wat afspeel tussen die 1990’s en die vroeë 2000’s, te beleef sonder dat ons ooit in daardie tyd geleef het. Ons soek dieselfde oorspronklikheid, konneksie en verhoudings wat met daardie era gepaard gaan.
Dus, omdat ons jonger generasies so in hul eie wêrelde, gebaseer op die invloed van jong volwassenes op die internet, vasgevang is, het hulle ’n gebrek daaraan om hul eie sienings te vorm. Sodoende word daar ook ’n gebrek aan die vermoë om ander perspektiewe in te sien geskep, omdat daar nie ’n selfstandige siening was om mee te begin nie.
Ons is bang om verkeerd te wees omdat dit die grense van ons eie identieit sou vernietig. Soms is dit makliker om deur onsekerheid bankvas te staan in jou eie absurde onbenulligheid as om jou onsekerheid in ’n onvoorspelbare wêreld te erken.
Jy kan nie jouself ken sonder om te weet waarin jy glo nie en jy kan nie dit waarin jy glo hoofsaaklik vanuit sosiale media ontgin nie. Ons moet onthou dat almal mense is en ons almal verskil, en dis belangrik om ons menslikheid te bewaar – veral wanneer dit meer as ooit die mensdom se hoofbron van hoop is.
Ella Smit
Ella Smit is in graad 10. Sy hou van lees, kuier, tuinwerk, teken en baie, baie gesels. Sy stel baie belang in sosiale kwessies, politiek en geskiedenis. Sy is ewig optimisties en gierig om meer oor die lewe te leer.
