[Erica Chen]
“I came out of the womb knowing how to do academic references.”
Die 17-jarige Pippa Fitz-Amobi is die hoofkarakter in die boekreeks, A Good Girl’s Guide to Murder, deur Holly Jackson, ‘n Britse skrywer. Pippa, of beter bekend as Pip, is ‘n akademiese boffin en ‘n magneet vir moeilikheid.
Met ‘n bietjie romanse en nie ‘n tekort aan drama nie, volg die leser vir Pip op haar avontuur om die waarheid te vind. In die klein dorpie, Little Kilton, kruip skadu’s tussen blommetjies en krake weg. Saam met Ravi Singh, volg hulle die kronkelende paaie van die moord van Andie Bell asook die selfmoord van Sal Singh, Ravi se ouer broer.
Vir vyf jaar lank, glo die dorp dat Andie Bell deur haar kêrel, Sal Singh vermoor is, maar haar lyk kan nie opgespoor word nie. Sal Singh, aan die ander kant, word dood gevind in ‘n woud, met ‘n briefie. Is dit moord of selfmoord? In die briefie aanvaar hy verantwoordelikheid vir Andie se moord, maar die waarheid is nie so eenvoudig nie.
Moord, geheime en leuens. Sal hulle die waarheid kan ontbloot wanneer die res van die dorp hul rûe op hulle draai?
Die boekreeks het vinnig positiewe terugvoer van die publiek ontvang. Met spanning, liefde en opbouende misterie, is baie lesers se aandag dadelik getrek. Op 1 Julie 2024 is die boekreeks deur BBC as ‘n televisiereeks vrygestel.
Die hoofkarakter, Pippa Fitz-Amobi, word deur die aktrise Emma Myers gespeel. Sy is bekend vir haar rol in die populêre Netflix-reeks, Wednesday. Ravi Singh word deur Zain Iqbal gespeel, sy eerste groot produksie. Die reeks se regisseurs is Dolly Wells en Tom Vaughan.
Ek sal beide die romanreeks, sowel as die televisiereeks aanbeveel. Alhoewel die televisiereeks nie presies soos die boeke verloop nie, is die storielyn en die karakterdinamiek soortgelyk en verskriklik aanloklik.
Wat die reeks nog meer aanloklik maak, is hoe elke stukkie inligting belangrik is in die groter geheel. Klein gebeurtenisse wat in die eerste boek gebeur, sal weer te voorskyn kom aan die einde. Die boek het veroorsaak dat ek my voorkop ‘n hele paar keer geklap het toe ek besef dat alles op mekaar bou. Die derde boek is waar alles mooi bymekaar kom en die reeks afsluit.
Die roman is nie net vol misterie en spanning nie. Daar is baie humoristiese aspekte en grappe, wat die karakters laat uitstaan. Die karakters is almal baie uniek en die dinamiek speel ‘n groot rol in die verloop van die roman.
Indien jy wonder of jy ooit sal leer hoe om met moord weg te kom, moet jy maar al drie boeke self lees.
Erica Chen
Erica se gunstelingvakke is gewoonlik die vakke waarin sy sleg vaar. Twee interessante feite oor Erica is dat sy Taiwanees is en dat haar hondjie, Teddy, die oulikste is.