Aandag alle aspirant-ingenieurs, spits julle ore!

[Dirk Hagen]

Staan ’n bietjie stil en kyk rondom jou. Jy sal waarskynlik ʼn paar van die volgende alledaagse verskynsels gewaar: lopende water, elektriese toebehore, teerpaaie waarmee jy onwillig elke dag skool toe ry, petrol aangedrewe voertuie, gasstowe of kos wat vars deur Sixty60afgelewer word.

Julle sal verbaas wees om uit te vind dat die meeste van hierdie broodnodige items, alles te danke is aan ʼn unieke spesie, naamlik die ingenieur. Hulle word gekenmerk deur hulle geneigdheid om hulle koppe gedurig in die sand te druk tydens sosiale interaksies. Indien hulle wel sosialiseer, sal hulle hul portuurgroep tot vervelens toe bombardeer met feite, logistiek en ander intellektuele sake. Dit verg egter nie veel tussen die ore om tot die slotsom te kom dat ons moderne, tegnologies gevorderde samelewing geskoei is op die werk van hierdie spesie nie, elk met sy eie uitdagings in sy eie onderskeie dissiplines.

Vanaf 2 tot 7 Julie 2023 het graad 11- en graad 12-leerders van wyd en suid saamgetrek by die Helshoogte-koshuis in Stellenbosch. Hulle kon die waters toets onder die wakende oog van ’n komitee van passievolle ingenieurstudente, van wie baie self Winterweek-bywoners was. Hierdie einste komitee het die Winterweek deeglik beplan, gereël en bestuur. 

Agt van ons eie bloubloed pompende Dee-Effers was deel van hierdie week wat die wêreld van ingenieurswese vir ons oopgemaak het. Die Universiteit Stellenbosch se Ingenieurswinterweek poog om hoërskoolleerders ’n kykie te gee in die ingenieursberoep en in die lewe van ’n ingenieurstudent. Die Winterweek-program is bedoel om aspirant-ingenieurs met soveel inligting en eerstehandse ervaring van ingenieurswese te voorsien, sodat hulle ’n ingeligte besluit oor hul studie en loopbaan kan neem.

Die week is afgeskop met ʼn projek wat die leerders se ingenieurstentakels geprikkel het. Om ʼn albaster te vervoer van ʼn lae punt na ʼn hoër punt deur gebruik te maak van enige werkende metode soos ʼn katrolstelsel of ʼn meganiese arm. Die projek behels ook die opstel van ʼn stroombaan deur verskillende komponente aan mekaar te bind.

Ontluikende ingenieurs het getrou elke dag van die week daaraan gewerk.  Dit het nie net hul praktiese en tegniese vaardighede beproef nie, maar ook hulle deursettingsvermoë en vasberadenheid.

Gedurende die week is daar verskeie klasse aangebied deur hoogaangeskrewe professors en ander personeel van die universiteit. Die leerders het die fakulteit se dosente ontmoet en toere deur die fakulteit se departemente en fasiliteite onderneem. Professionele ingenieurs in die industrie is ook ontmoet en geleentheid is gegun om verhoudings te bou met toekomstige mede-studente.

Verskeie baanbreker besighede in die bedryf is besoek. Die leerders het  die geleentheid gekry om kennis in te win oor hoe die onderneming bedryf word en die normale dag van ʼn werkende ingenieur.

Besighede wat besoek is, sluit in die aanlyn-reus, Takealot, wat ingenieurs van alle dissiplines met ope arms verwelkom het, maar spesifiek voorkeur gee aan data-ingenieurs. Ander besighede sluit in Zutari, Simera Sense, Eskom, Praelexis, Stone Three, OneEighty en nog vele meer.

Aan die einde van die week, het die leerders weggestap met nuwe brokkies informasie, kundigheid in die bedryf en ʼn mate van duidelikheid oor hul toekomsplanne. Sosiale konneksies is gevorm, ingewikkelde koderingstelsels en ander elektronika is waargeneem, materiale is bestudeer en getoets, chemikalieë is gemeng en laaste maar nie die minste, is daar gespoeg en geplak aan die albasterprojek.

Om ’n week saam met eendersdenkende leerders deur te bring en die bedryf te leer ken, is meer as wat enige aspirant-ingenieur kon vra. Die legkaartstukke van die toekoms het begin pas wat die geheelbeeld al hoe duideliker gemaak het vir ieder en elk.

Behalwe om Stellenbosch se jaarlikse Winterweek by te woon, word aspirant-ingenieurs sterk aangeraai om hard te werk op skool aangesien die toelatingsvereistes steeds ʼn doring in menige studente se vlees bly. Studente word aangemoedig om vroegtydig aansoek te doen by hulle gekose universiteit (natuurlik Stellies) om voorlopige keuring te kry. Diegene wat graag vir ʼn beurs wil aansoek doen, word aangemoedig om by soveel moontlike private instansies sowel as opvoedkundige instansies aansoek te doen aangesien dit somtyds so skaars soos hoendertande kan wees.

’n Graad in Ingenieurswese is egter nie die alfa en die omega nie! Om as professionele ingenieur te registreer, moet jy normaalweg aan twee vereistes voldoen naamlik:

*Jy moet oor ’n BIng- (Baccalaureus in die Ingenieurswese) of BScIng-graad (Baccalaureus Scientiae) wat vir hierdie doel deur ECSA geakkrediteer is, beskik. 

*Daarna moet jy ’n tydperk van indiensopleiding wat vir ECSA van aanvaarbare standaard en duur (3 jaar) is, voltooi. 

Dus is daar ander alternatiewe soos ʼn BSc-graad wat oorweeg kan word. Die BIng-graad kan toegeken word in die volgende studierigtings naamlik bedryfsingenieurswese, chemiese ingenieurswese, elektriese en elektroniese ingenieurswese, meganiese ingenieurswese,  megatroniese ingenieurswese en siviele ingenieurswese.

Die kruks van die saak is dat ingenieurswese ʼn unieke persoon verg.  Hy of sy moet hare op hul tande hê, bereid wees om hard te werk en onderrigbaar wees. Probleemoplossingsgedrewe, nuuskierig en innoverend is karaktereienskappe wat net in jou guns sal tel. Dit wil sê, dit is ʼn feit soos ʼn koei dat ingenieurswese nie vir elke Jan Rap en sy maat is nie.

In die woorde van die direkteur van die Winterweek by Stellenbosch, Dirk Troost: “Jy sal beproef en getoets word en sal baie laat aande moet werk, maar soos die meeste grade, sal jy soveel uitkry as wat jy insit. Jy sal dalk net ontdek dat jy tot baie meer in staat is as wat jy besef het.”

Troost het ook verder aangevoer dat studente Wiskunde nie net moet liefhê as ʼn vakgebied nie, maar eerder as ʼn hulpmiddel om werklike en realistiese probleme opgelos te sien. Hy het sy keuse om ingenieurswese as studierigting te kies, verdedig deur te verwys na die feit dat dit ʼn baie belonende graad is met verskeie werksgeleenthede.

Voel jy gedruk om ʼn keuse te maak oor jou beroep of studierigting? Is ma en pa op ʼn konstante oorlogspad oor jou muisneste of luiheid? Moenie bekommerd wees nie! Laat die woorde van Dirk Troost jou gemoed tot ruste bring: “Jou studiekursus is ’n groot en belangrike lewensbesluit, maar dit bepaal nie vir die res van jou lewe wie jy is nie. Neem hierdie volgende paar jaar om te verken, ontdek hoe min jy werklik weet en ontwikkel ‘n liefde vir leer.”

Om af te sluit, die Hongaarse wiskundige en lugvaartingenieur, Theodore von Karman, het gesê: “Wetenskaplikes bestudeer die wêreld soos dit is; ingenieurs skep die wêreld wat nooit tevore was nie.”[1] 


Dirk Hagen

Dirk se gunstelingtydverdryf is om in die middernagtelike ure koerant te lees met speckled eggs langs hom. Hy is versot op reis, alle vleis, gesprekke rakende politiek en om die onbekende te verken.