[Emily Byleveld]
DF Malan se eerste revue sedert die COVID-19-pandemie is om die draai en ons geselskap het baie te sê oor wat agter die gordyn gebeur.
Volgens Emma Steffen, wat een van die hoofkarakters (Kara) speel, is daar vele prettige tye en spesiale oomblikke tussen al die harde werk. Eben Olivier (Thys) sê dat sy gunstelingoomblikke beslis die bloopers tydens repetisies is en dat al die harde werk die moeite werd is.
Dit klink soos baie werk om ‘n produksie suksesvol op die planke te bring, en dit is natuurlik, maar met genoeg motivering en koffie, is enige iets moontlik. Danielle de Villiers (Liné) sê dat dit wel ‘n groot voorreg is om saam met al haar talentvolle mede-akteurs te werk en Eben stem saam. Colin Burger beskryf selfs die geselskap as ’n familie.
“Dit is nogal stresvol om deel te wees van so ‘n groot produksie, maar hoe meer ons oefen, hoe gemakliker raak ek,” sê Colin (Werner).
Volgens Emma en Colin is die lang ure se oefening vir hulle die moeilikste deel van die revue. Aan die ander kant, voel Danielle en Eben dat dit vir hulle die moeilikste is om hul karakters natuurlik te speel, en hul lines realities oor te dra.
Elke akteur het hulle eie manier om motivering te vind. Emma herinner haarself aan hoe ongelooflik die eindproduk gaan wees en Danielle verduidelik: “Ek herinner myself aan al die lekker oomblikke van die revue en so sal ek myself opgewonde maak oor elke liewe oefening.”
“Ek dink ons het begin as ‘n span wat net saam moet oefen om ‘n goeie produksie te lewer, maar hoe meer tyd ons saam spandeer, hoe meer word ons soos ‘n super close familie,” verklaar Emma.
Revue en toneelspel bring mense bymekaar. Soos wat Colin sê: “Ek vorm verhoudings met die mense om my, beide op en van die verhoog af.”
Die verhoudings tussen die toneelspelers, dansers en sangers is van so ‘n aard dat almal met dieselfde respek en omgee hanteer word. Geen rol is meer waardevol as die ander nie, en volgens Danielle, is dit ‘n eer om net betrokke te wees by die produksie, ongeag watter rol jy speel.
Die revue beïnvloed natuurlik jou persoonlike lewe, vir sommige meer as ander. “Dit maak my skedule super besig, maar ek weet dat ek eendag bly gaan wees dat ek so ‘n besige skedule op skool gehad het,” beaam Colin.
Ten slotte gee Eben goeie advies vir diegene wat wil deelneem aan DF Malan se volgende revue: “Moenie te skaam wees om te probeer nie! Ek het eerlikwaar nie gedink ek sou gekies word nie, en ek het eintlik net aan die oudisie deelgeneem omdat dit na pret gelyk het, maar ek is so bly ek het toe probeer. Daar is regtig niemand in die span wat oordeel fel nie en juffrou Eygelaar, wat hoofsaaklik by die toneelspelers betrokke is, is verskriklik gaaf en passievol oor wat sy doen, so daar is geen rede om skaam te wees voor haar – of enige iemand anders – nie.”
Wasseshow vind plaas op 15, 16 en 17 Mei in die Aktiwiteitsentrum. Kom kyk hoe hierdie karakters op die verhoog lewe kry.
Emily Byleveld
Emily se gunstelingvakke is Engels en dramtiese kunste. Wanneer sy nie besig is met koor, debat, hokkie, orkes of tutor nie, skryf sy vir die Herout. Sy is baie lief vir lees en piesangbrood.