Andrea van Wyk
Stel jou die volgende voor:
Weggeruk uit jou tuiste. Geskei van jou familie en vriende. Geforseer om te leef in beperkte ruimtes. Gedwing om op te tree. Agter die skerms gemartel en vasgebind.
Diere is nie natuurlike akteurs of sirkusnarre nie, tog is dit duisende van hulle se daaglikse lot om onder dwang in akwariums, sirkusse en dieretuine op te tree en wanneer hulle nie meer van nut is nie, summier van kant gemaak te word. Hierdie diere in akwariums, sirkusse en dieretuine sal nooit die kans kry om in vryheid te leef soos hulle veronderstel is om te leef nie.
Waarom moet akwariums, sirkusse en dieretuine verban word?
1. Genoeg spasie kan nie aan diere voorsien word nie
Die eerste akwarium is in 1832 gebou met die doel om die studie van waterdiere moontlik te maak. Ingrid E. Newkirk, die PETA (People for the Ethical Treatment of Animals)-webwerfbestuurder en die medeskrywer van Animalkind, het in ‘n artikel vir die PETA-webwerf laat blyk dat vroeë navorsing nie daarin geslaag het om akwariums ‘n gesonde leefruimte vir seediere te maak nie – hulle word in klein tenke gedruk en kan slegs in herhalende sirkels swem in plaas van die eindelose kilometers van die oseaan.
Moderne sirkusse is ‘n baie gewilde vorm van vermaak wat gedurende die 1770’s in Engeland deur Phillip Astley geopen is. Dit behels ‘n verskeidenheid eksotiese diere wat optree vir die vermaak van mense. Een manier waarop die lyding van diere hier toegepas word, is deur onbehoorlike behuising aan hulle te voorsien – in plaas daarvan dat hulle in hul natuurlike habitat leef, word hulle in beknopte sleepwaens aangehou en word só deur die land vervoer.
Volgens Nancy Wynne in Mei 2022 se National Geographic, is die eerste moderne dieretuin in 1793 in Parys gebou met die hoofdoel dat wetenskaplikes dieregedrag kan bestudeer. Deesdae wissel dieretuine in grootte en gehalte – vanaf groot parke sonder hokke tot piepklein hokkies langs die pad. Dit maak egter nie saak hoe groot akwariums en dieretuine hul kampe probeer bou nie, hierdie ruimtes vergelyk op geen manier met die habitat waarin diere veronderstél is om te leef nie.
2. Geen opvoedkundige doeleindes word bevredig nie
‘n Studie wat deur die Great Ape Project (GAP) in 2014 aangepak is, het bevind dat 59% van leerders wat deel was van die studie en sáám met ‘n gids ‘n dieretuin besoek het, na die tyd geen verandering of ‘n negatiewe verandering in hul begrip van diere ervaar het.
Dieretuine en akwariums word as ‘n noodsaaklike leerinstrument beskou om bewustheid oor wilde diere by kinders en volwassenes te verhoog. Die nare waarheid is egter, mense kry min – indien énige ware begrip van wilde diere en hul natuurlike instinkte wanneer hulle hierdie plekke besoek.
3. Diere ly
Erin Duerden, ‘n dierekundestudent, het in ‘n onderhoud vir The Vegan Review in 2022 gesê dat in akwariums, diere dikwels medikasie moet gebruik sodat hulle stresvlakke verlaag kan word, wat dan gevolglik tot ‘n korter lewensverwagting lei. Sy het ook na stres, hoë babasterftes en mediese probleme as nagevolge van die swak toestande waarin hierdie diere aangehou word, verwys.
Sirkusse forseer bere, olifante, tiere en ander diere om baie veeleisende toertjies as vorm van vermaak uit te voer. Hulle maak gebruik van pynlike gereedskap insluitend swepe, stywe halsbande en elektriese skokstokke om die diere vreesbevange te maak sodat hulle sal reageer volgens die afrigters se wil.
In dieretuine word diere wat natuurlik in groot groepe voorkom, gewoonlik alleen aangehou; natuurlike jag- en paringsprosesse word feitlik uitgeskakel en die diere kry selde geleentheid vir fisiese oefening. Diere begin hier ook aan abnormale herhalende gedrag, wat zoochosis genoem word, ly as gevolg van depressie, verveeldheid en psigose.
Kom ons wys akwariums, sirkusse en dieretuine dat ons nie hulle wrede optrede ondersteun nie. Kom ons boikot hulle en kies eerder om dierevriendelike vermaak en opvoedkundige aktiwiteite te ondersteun. Só kan ons ‘n verskil maak aan die daaglikse lot van duisende onskuldige diere.