Alle grappies op ‘n stokkie met vakkeuses

[Mieke Verster]

Om al in graad 9 te weet wat jy wil gaan studeer, is geen grap nie en kan dalk moeilik en stresvol vir leerders wees. Hier is ‘n paar wenkeom die regte vakke te kies.

Begin vroegtydig al navorsing doen

Daar is niks erger as om die week voor jou vakkeuse-afsnydatum soveel daarvan te weet as ‘n kat van saffraan nie. Daarom moet jy jou huiswerk voor die tyd doen. Jy kan byvoorbeeld daagliks navorsing doen oor ‘n beroep of rigting wat jy interessant vind. Dit sal jou help om te verstaan watter vereistes nodig is vir sekere loopbane en jou vakkeuses makliker maak. Twee vlieё met een klap.

Weet wat jou belangstellings en vermoёns is

Die vakke wat jy in graad 9 sal kies, skep die basis vir jou unieke universiteitslewe. Daarom moet dit goed by jou belangstellings en vermoёns pas. Moenie die sprong van graad 9 tot 10, ten opsigte van vakke, onderskat nie en leer nou al hoe om jou tyd korrek te bestuur. Wanneer jy jou vakke kies, beteken dit ook nie jy hoef al te weet wat jy wil gaan studeer nie, dit laat jou slegs besluit in watter rigtings jy belangstel. Daarom is dit belangrik om jou belangstellings en vermoёns vroegtydig te identifiseer, sodat jy die regte vakkeuses sal maak. 

Moenie dat ander mense jou keuse beïnvloed nie

Wanneer jy in graad 9 kom, sal jy daagliks hoor hoe kinders sê: “My ouers het gesê ek moet dit vat.” Alhoewel ouers hulle kinders moet ondersteun om die beste toekoms vir hulself te skep, is dit in sommige gevalle nie die antwoord nie. ‘n Kind wat werklik ‘n passie vir ‘n sekere rigting het, sal die vakke moet neem  wat vir hulle die beste kans gee om by daardie kursus in te kom en nie na ander se menings daaroor luister nie. Selfs Oprah Winfrey het gesê: “Passion is energy. Feel the power that comes from focusing on what excites you.”

Om die vakke te kies vir jou toekomstige loopbaan, is die eerste groot besluit wat jy in jou lewe sal neem, daarom moet jy seker wees oor jou keuses. Aan die einde van die dag kan jou ouers, vriende en onderwysers jou leiding gee, maar jy sal die finale keuse moet maak.

[Foto: Yana Mans]


Mieke Verster

Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.