Bemarking Bulletin: Die Storie Agter die Goue Mikrofoon

[Danté van Wyk]

“Hou dit vars, hou dit lekker, hou dit DF”.

Ons almal ken dié woorde, maar waar kom dit vandaan? Stap saam ‘n pad deur die geskiedenis om hierdie vraag te beantwoord.

Hoofstuk 1: Die Begin

Bemarking Bulletin het begin by die eerste seniorraadvergadering van 2017.

Dit was die vergadering waar die dagbestuurslid, Hendré Cubitt laat opgedaag het. Soos hy dit vertel: “Toe ek by die klaskamer opdaag, het die ander dagbestuurslede klaar besluit watter portefeuljes wie sou aanpak en as straf, is bemarking vir my gelos.” In daardie dae is bemarking as die “afskeep komitee” gesien.

Maar Hendré was slim. Hy het hierdie geleentheid aangegryp om iets te skep wat DF totaal kon verander. Nadat hy ‘n span versamel het, het hulle aan die werk gespring. Na ‘n treffer van ‘n naam gekry is en ‘n goedkoop Bluetooth-mikrofoon met ‘n blink laag goud geverf is, was hulle gereed om bemarking na die volgende vlak te neem.

Indien jy na ‘n volledige verduideliking wil luister van Hendré se ervaring as hoof van bemarking, gaan luister gerus na die nuutste episode van JA,DF! (https://open.spotify.com/episode/3oWttZIAroPThLDg263Tl1?si=jbzTflnOSBiUfVf7axc3LQ)

Hoofstuk 2: Lewe na 2017

Nadat Hendré matrikuleer het, het hy die Goue Mikrofoon aan Charisa Geyer oorgehandig in 2018. Sy het dinge verder geneem deur gebruik te maak van Jaco Wegener, die hoofseun van 2019 om ‘n naam vir bemarking te skep. Dit was ook die jaar van die eerste Valentynsdagvideo waar jy vir Jaco Wegener, Jacques de Vos en Neil Malan kan sien wat die One Direction-liedjie, “What Makes You Beautiful” lip sync

In 2019, het die MTBS-dirigent, Petrus du Preez oorgeneem. Hy en sy span was verantwoordelik om die meeste van die videokonsepte, wat vandag nog gebruik word, te skep wat gehelp het om die Bemarking Bulletin suksesvol te maak. Jy kan van sy video’s vind deur die skakel te volg. (https://youtube.com/playlist?list=PLYraL3xxGC0fOJ39Jnm9mv6UebOZEd40l&si=ndYww1IqRlz6l4fX)

Sy bekendste video was die “‘n Dag in DF”-video. In sy jaarverslag vertel Petrus dat hy die hele seniorraad gevra het om verskillende aspekte van ons skool af te neem en na ‘n paar ure se redigering, het 8 800 mense al na die video gekyk op Bemarking Bulletin se YouTube-kanaal.

Hoofstuk 3: Die Pandemie

Net nadat die Goue Mikrofoon vir die derde keer oorhandig is, het die hoof van bemarking van 2020, Jean van Schalkwyk besluit dat die logo nie goed genoeg is nie. Daarom het hy vir Karl Voigt gevra om ‘n splinternuwe logo te maak, wat die hele groep ‘n nuwe beeld gegee het. Een van hul beste video’s is die Vlug 2024-video, wat gebruik gemaak het van hommeltuigskote en ‘n vliegtuig. Dinge het met ‘n goeie pas verloop, maar net tot Maart. 

Covid-19 het die wêreld getref en die Bemarking Bulletin moes aanpas. Jean het toe besluit om die waters te toets deur die potgooi, “Ja, DF!” aan die skool bekend te stel, maar dit het ongelukkig nooit uitgewerk nie. Teen dié tyd kon niemand enigiets beplan of skiet nie en Bemarking Bulletin moes maar wag tot die volgende jaar.

Hoofstuk 4: Hou dit vars

Nadat Jean sy bes probeer het om iets gedoen te kry in 2020, kon hy net drie video’s in die begin van daardie jaar gemaak kry. 2021 was om die draai en gelukkig kon die nuwe bemarkingspan versamel. Arnold Hattingh is verkies as hoof van die Bemarking Bulletin en hy het glad nie op hom laat wag nie. Volgens sy manifesto het hy al aan die einde van 2020 sy storie agtermekaar gekry om van sy matriekjaar ‘n groot sukses te maak. 

Een van Arnold se grootste projekte was die seniorraadvideo van 2021. Die idee agter die video was dat die seniorraadlede deel is van ‘n vloot, deur gebruik te maak van ‘n outydse duikboot wat in die Simonstad Vloot Museum geleë is.

JG Wagener, een van die lede van die span, het Jean se potgooi-idee verder geneem deur elke kwartaal ‘n nuwe “Ja, DF!”-episode te skiet wat tans op alle platforms beskikbaar is.

Arnold het ook ‘n groot verskeidenheid video’s gemaak, van ARK-week tot die matrieksaalvideo, “Lewe na MTBS”, wat gaan oor Julian Milner se kamstige siekte genaamd “leëpawiljoensindroom”.

Lize van Rooyen het aan die einde van Arnold se matriekjaar oorgeneem. Sy het met die res van haar span fantastiese video’s gemaak, als te danke aan die hoofseun van 2023, Ben Minnaar, wat ‘n goeie kombinasie van kamerawerk en redigering kon lewer. Lize het baie kreatiewe idees gehad. Een voorbeeld is die “Masterchef DFM”-video. Dit behels drie leerders wat teen drie onderwysers kos maak om te sien wie met die beker wegstap.

Hoofstuk 5: Die Donker Tydperk

Nadat Lize matrikuleer het, wou Ben in 2023 die Goue Mikrofoon oorneem. Weens die skool se leierskapsisteem, was dit ongelukkig nie moontlik nie. Dit het ironies genoeg daarnatoe gelei dat Ben Minnaar as hoofseun verkies is, al wou hy baie graag die Bemarking Bulletin bestuur.

Alhoewel Noah Love, juffrou Coetzee se regterhand, ‘n Valentynsdagvideo geskep en geskiet het, was daar net twee video’s vir daardie jaar.

Hoofstuk 6: ‘n Nuwer Era

2024 het aangebreek en dit was tyd om nuwe lewe in die Bemarking Bulletin te blaas.  Nadat Danté van Wyk sy passie vir bemarking ontdek het, het hy ‘n span saamgestel om te help hiermee. Lohen Chamberlain is eerstens betrek om die video’s met ‘n selfoon af te neem. Eileen Vermeulen is verder genader om te fokus op die videografie en om seker te maak dat ‘n goeie gehalte produk gelewer word. Nadat hulle “’n DF Valentynsdag V7.0” gemaak het, is besluit dat die Raad van Leerderslid, Sebastiaan Gelderblom en grafiese redigeerder, Kaylee du Preez perfekte lede vir die span sal wees.

Die nuwe Bemarking Bulletin-span van 2024 het daarna ‘n somerbalvideo geskep, ten spyte daarvan dat die video binne een week geskiet moes word. Om die span ten volle te voltooi, is besluit dat dirigent, Leohen van der Merwe, en hoof van noodhulp, Ruben van Rooyen, die span sou voltooi. 

Die nuutgeskepte manifesto sê dat enige bemarkingsvideo aan drie vereistes moet voldoen: ‘n goeie storielyn, komedie en die Goue Mikrofoon. Een van die lesse wat geleer is, is om genoeg tyd te laat vir ‘n video, aangesien dit twee weke kan neem om klaar te kry.

Oor ‘n paar dae gaan die ARK-week se video op die YouTube-kanaal geplaas word en die span kan nie wag om dit te deel nie.

Om af te sluit, het elke hoof van bemarking hul eie visie bygedra, wat in die groter prentjie ‘n diverse, sarkastiese en humoristiese beeld skep van ‘n klomp tieners wat video’s maak om ‘n skoolkind se lewe meer opwindend te maak. Soos ons leuse sê: Vir die leerders, deur die leerders.


Danté van Wyk

Hierdie passievolle lid van die Bemarking Bulletin  is versot op kodering, videospeletjies en om met die malste idees vorendag te kom. As hy nie besig is om aan video-idees te dink nie, redigeer hy video’s.