[Anlia Taljaard]
Dit het vinnig gebeur – amper so skielik soos daardie klip destyds Goliat se kop getref het. ’n Bittersoet oomblik. Een enkele gedagte wat jou behoorlik ruk tot die naakte realiteit: Ek is in my laaste jaar van skool!
My kosbaarste herinneringe vasgevang binne die blou, geel en wit mure van avontuur, vriendskappe, teleurstellings, hoogte- en laagtepunte. Van absoluut laf tot akademies ernstig. Ek is nie spyt oor ’n enkele keuse of gebeurtenis nie, want in dié afgelope vier jaar was ek op reis. Op reis tot volwaardig mens word.
Is ek al mens? Miskien nog nie heeltemal nie. Die jaar het skaars begin en ek kan immers nog huiswerk as ’n verskoning vir skottelgoedwas gebruik. Daar wag boonop nog vele avonture en bietjie boekesweet voor.
Dit was nie so maklik vir ons jaargroep nie. Na ’n uitmergelende en vreesaanjaende Covid-jaar waar almal snoesig tuis kon wegkruip vir die virus, moes ons graad sewes die lelike monster diep in die oë staar en bly skoolgaan. Een ding weet ek verseker – daardie graad agts wat in 2021 DF se drumpel met hul maskertjies en opmerklik oorgroot tasse en baadjies oorgesteek het, was sterk en reg vir enige uitdaging. Totaal vreesloos.
Matrieks van 2025, laas jaar was DF Malan 70 jaar oud en op 8 Mei vanjaar is ons Afrikaanse taal 100 jaar oud. Wat ’n voorreg om in Afrikaans te kon studeer en kommunikeer in ons belangrikste grootwordjare.
Dit mag dalk ’n jaar van laastes wees. ’n Jaar van afsluitings en totsiens sê. Ons gaan dit in styl doen en ’n glasie klink op ons elkeen se wonderlike toekoms wat wyd voor ons uitgestrek lê. Tensy van ons oorstelp raak met die idee en dalk langer by ou DF wil bly.
Ons hartseer en geluk word deur ons hartsvriende opgevang. DF gee ons daardie warm gevoel van nooit eensaam wees nie. Om van jou skool, onderwysers en maats afskeid te neem, is nie maklik nie, maar ons tyd om deur hierdie lewensbelangrike reis te gaan, is hier en nou.
Sien julle by kuiers, op die stoepe en in toets- en eksamenlokale. Mag ons mooi kyk na mekaar in ons laaste jaar van skool.
Anlia Taljaard
Anlia se gunstelingvakke is geskiedenis en wiskunde. Sy is mal oor kuns, het al vir twee jaar in Australië gewoon en sy het ‘n baie oulike hond, Mietsie.