Blitsige Breinkos

[Bianca Richter]

Raak jy moeg van die afgeskeepte krummels en korsies na ‘n lang dag by die skool? Hierdie resepte sal maak dat jou ouers die kombuis aan jou oorgee as ‘n DF-sjef.

Koreaanse eierrolletjies

Hierdie dis bevat baie proteïene en vitamiene D, asook cholien, wat belangrik is vir breinfunksie. Jy kan bestanddele byvoeg soos jy wil volgens die hoeveelhede wat jy verkies.

Bestanddele:

  • fyngekapte groenuie of knoffel
  • 2 medium eiers wat geklits is
  • ham
  • opgesnyde wortels
  • ‘n knippie sout en/of peper
  • ‘n bietjie Canola of kookolie

Metode:

  1. Breek en klits jou eiers in ‘n maatbeker en voeg dan jou bestanddele by.
  2. Gooi die mengsel in jou pan oor medium hitte nadat jy dit met ‘n bietjie botter of olie bedek het.
  3. As jy sien die eier stol, maak die kant van die rolletjie los en rol dit stadig op na die teenoorgestelde kant totdat dit heeltemal opgerol is.
  4. Plaas die rolletjie op ‘n bord en sny dit in skyfies.
  5. Geniet dit!

Grondboontjiebotter-en-piesang-soesji

Hierdie dis is nie net ‘n ongewone en interessante kombinasie nie, maar dit bevat tonne minerale, vitamiene, vesel en kalium wat jou meer as genoeg energie sal gee vir die huiswerk wat voorlê.

Bestanddele:

  • wrap
  • piesang
  • grondboontjiebotter

Metode:

  1. Smeer jou wrap met grondboontjiebotter.
  2. Plaas die piesang in die wrap en rol dit op.
  3. Sny dit op in rolletjies en geniet!

Koolkoekies

Bestanddele:

  • 2 koppies gemaalde rou kool
  • 1 wortel gerasper
  • 2 eiers
  • koppie meel
  • koppie grasuie
  • speserye soos peper, sout en paprika
  • 1 ui

Metode:

  1. Sny en skil al jou bestanddele en plaas dit in een bak.
  2. Vou jou mengsel deeglik bymekaar.
  3. Voeg ‘n bietjie olie in jou pan en sit die plaat aan.
  4. Vorm jou koolkoekies en plaas dit in die pan.
  5. Braai hulle bruin aan elke kant en bedien met ‘n lekker sous van jou keuse.

Sout-en-asyn-komkommerskyfies

Hier is ‘n gesonde plaasvervanger vir olierige skyfies met baie voedingswaarde en lekkerte.

Bestanddele:

  • komkommer
  • asyn
  • sout
  • olyfolie

Metode:

  1. Sny die komkommer in dun repies en spoel dit af.
  2. Druk die komkommerskyfies droog met ‘n papierhanddoek en plaas dit op ‘n bakplaat, waar jy hulle met olie en speserye kan bedek.
  3. Plaas die komkommerskyfies op ‘n bakplaat en sit dit in die oond of in die lugbraaier en bak dit teen 120 grade Celsius tot dit lekker bros is.

Bianca Richter

Enige iets wat kuns en kultuur insluit, is iets wat Bianca se belangstelling sal prikkel. Sy is bekend vir haar vreemde koskombinasies soos roomys met tamatiesous. Haar gunstelingvak is biologie en sy sien altyd uit na kooroefeninge.