Blitsmodes beïnvloed omgewing blitsvinnig

Jean-Mari Vos

Wat is blitsmodes? Volgens Oxford Languages is blitsmodes goedkoop klere wat vinnig deur  kleinhandelaars vervaardig word in reaksie op die nuutste neigings. 

Dit raak ‘n probleem omdat handelaars wat blitsmodes produseer, meer omgee oor tyd as kwaliteit. Hoe meer produkte die handelaars daagliks produseer en verkoop, hoe meer wins kan hulle maak.

Die materiale wat gebruik word vir blitsmodeprodukte is nie van die beste kwaliteit nie. Die meeste materiale wat  gebruik word, bestaan uit plastiek wat met ander stowwe gemeng word. Wanneer hierdie kledingstukke klaar gedra of stukkend is, gooi mense dit weg en dit beland op vullishope. Hierdie materiale is nie bio-afbreekbaar nie en veroorsaak net meer besoedeling. Wanneer hierdie materiale deur die kleurfase gaan, word baie giftige stowwe van die kleurstof in riviere, damme of direk in die oseane gestort. Dit benadeel die omgewing, dierelewe, asook die menslike lewe rondom hierdie areas. 

Baie handelaars soos Shein en Zaful hou daarvan om groot te gaan met die verpakking van hulle produkte. Die verpakkings waarin die produkte afgelewer word, bestaan uit ʼn plastieksakkie met ʼn ritsluiter. Elke kledingstuk word in ‘n aparte sakkie geplaas. Hierdie sakkies word meestal nie herwin nie en beland op vullishope. Van hierdie sakkies beland ook in riviere, damme of oseane en dra weereens by tot besoedeling.

Die meeste van hierdie handelaars gebruik slegte arbeidstegnieke, soos om mense vir lang ure in ‘n vuil fabriek te laat werk, teen min vergoeding. Die gebrek aan sigbaarheid van voorsieningskettings kan onveilige werksomstandighede en omgewingskade veroorsaak vir die werkers. Die aantal kledingstukke wat hierdie werkers produseer, bepaal hulle inkomste, wat veroorsaak dat van hierdie arbeiders minder as die minimum loon verdien. 

Noudat jy al hierdie inligting het, kan jy besluit of jy nog steeds onetiese handelaars wil ondersteun en toelaat dat hulle ons omgewing beskadig.