[Christina Bradley]
Ek was nog altyd so lief vir die kleur blou
al was dit die kleur van hartseer, treur en rou.
Dit was die kleur van die hemel
op ‘n wolklose dag.
Die kleur van die diep, donker see
waar die onbekendes lê en wag.
Blou was die kleur van die mooiste voëls
wat daagliks in die kruine van bome sou sing.
Dit was die kleur van varswaterriviere
waar ek vakansiedae sou deurbring.
Blou was die kleur van sy oë
waar ek diep na dou verlang.
Die oë waaraan ek sou dink
al was ek gelukkig, hartseer of bang.
Ek was nog altyd lief vir die kleur blou
maar ek sien nou hoekom dit die kleur is van hartseer, treur en rou.
Want blou was sý gunstelingkleur
jy kon dit altyd by hom gewaar.
En blou was die kleur van sy lippe
toe ek die laaste keer
in sy siellose oë
staar.
