[Jana Burger]
As jy in vandag se digitale samelewing wil voel asof jy deel van ’n groep is, is TikTokdie plek vir jou. Die populêre sosialemediaplatform bestaan uit talle subkulture. Hierdie subkulture bestaan uit groepe mense wat soortgelyke video’s oor ’n sekere onderwerp met mekaar deel. Die subkulture het dikwels hulle eie name, byvoorbeeld cottagecore TikTok, WitchTok, Hamilton TikTok en selfs Willy Wonka TikTok.
BookTok, in sy eenvoudigste vorm, is een van hierdie subkulture waar mense video’s oor hulle geliefkoosde boeke maak en versprei. ’n Groot persentasie vanBookTok-gebruikers maak nie self hierdie video’s nie, maar gebruikBookTok met die doel om nuwe boekaanbevelings te vind.
BookTok is grotendeels populêr onder tieners en studente, waarvan die meerderheid meisies is. Tydens ’n studie deur The British trade organisation in 2022 het 59% van BookTok-verbruikers erken dat die platform hulle gehelp het om ’n liefde vir lees te ontwikkel. Talle skrywers baat by die gratis bemarking wat hulle deur BookTok-gebruikers se video’s ontvang en talle boekwinkels het nou ‘n #booktok-afdeling heel voor in die winkel.
Maar as dit alles soos ’n goeie ding vir die boekliefhebber-gemeenskap lyk, hoekom is baie mense so kwaad oor die invloed van BookTok op hulle gunstelingstokperdjie?
“BookTok wys vir my net dieselfde 20 boeke.”
Dit is een van die mees algemene klagtes vanBookTok-gebruikers wat moeg is daarvan om slegs boeke van skrywers soos Colleen Hoover, Sarah J. Maas en Madeline Miller op hulle for you page te sien. BookTok-gebruikers word dikwels daarvan beskuldig dat hulle almal dieselfde boeke lees, maar dit is bloot nie die geval nie. Die rede hoekom nuwe TikTok–gebruikers meestal video’s sal sien van Colleen Hoover en Sarah J. Maas is omdat die sosialemediaplatform so algoritme-gedrewe is. Mense wat nuut is op die platform sal die video`s sien wat die populêrste is, want die algoritme wil jou so lank as moontlik op die platform hou.
Alhoewel dit nie die mense wat die video`s maak se skuld is nie, forseer dit nog steeds nuwe gebruikers om moontlik ure op die platform te spandeer voordat hulle ander boeke wat hulle moontlik interesseer sal vind. Boonop word die BookTok–gemeenskap ook verdeel in ’n eindelose konflik of hierdie bekende skrywers se boeke regtig goeie literatuur is en of dit net populêr geword het te danke aan die algoritme.
Dus kan ons bevestig dat die beperkte aantal boeke waaraan nuwe BookTok-gebruikers blootgestel word, nie so erg die mense op die platform se skuld is nie, maar bloot die gevolge van die algoritme se invloed op die platform is.
“Dit gaan nie meer oor lees nie, maar slegs die estetika”
Dit is geen geheim dat lees as ’n stokperdjie baie esteties op sosiale media uitgebeeld word nie. Mense spandeer baie tyd om hulle boekrakke mooi te laat lyk of dat dit by ’n sekere styl pas. Baie mense sal selfs klere aantrek wat by ’n boek se omslag pas sodat hulle foto’s mooier kan lyk op sosiale media. Mense opBookTok spog met hulle reuse boekrakke wat volgens kleure van die reënboog georganiseer is, maar sal terselfdertyd erken dat hulle soms honderde boeke besit wat hulle nog nie gelees het nie.
As gevolg van hierdie behoefte om alles mooi te laat lyk op TikTok is baie mense bekommerd dat hierdie lesers nie regtig lees nie. Hulle spandeer dikwels so baie tyd om estetiese video’s van hulle boeke te maak dat baie mense glo hulle nie moontlik nog tyd kan hê om te lees nie.
Alhoewel ’n mens kan verstaan waarvandaan hierdie aanname kom, is daar geen geldige bewyse daarvoor nie. Daar is en sal altyd mense wees wat maak asof hulle lees om meer intelligent voor te kom, maar net omdat mense opBookTok baie aandag gee aan hoe esteties hulle video’s lyk, beteken dit nie noodwendig dat hulle nie lees nie.
Daar is ‘n eenvoudige rede hoekom mense op BookTokso baie aandag aan die estetika van hulle video’s gee en dit is die feit dat TikTok’n visuele platform is. Jou video’s het ’n groter kans om meer aandag te trek as dit meer esteties lyk. Die estetika van BookTok-video’s is ook ’n manier om vir mense te wys watter tipe boeke jy geniet. Wit boekrakke vol liggies en boeke wat volgens die kleure van die reënboog georganiseer is, kan byvoorbeeld vir die kyker aandui dat jy meer romantiese of kontemporêre boeke geniet. ‘n Donker boekrak vol ou tweedehandse boeke kan aandui dat jy meer klassieke boeke geniet.
Om mense te vind wat dieselfde estetika as jy geniet opBookTok kan ’n manier wees om te voel asof jy deel is van ’n groep mense met dieselfde belangstellings as jy. Dit is relevant aangesien ‘n groot hoeveelheid BookTok-gebruikers tieners is. ’n Groot deel van tienerwees is om meer oor jouself en by watter groepe jy inval, te leer.
Die fokus op estetika is dus om die video’s beter te laat lyk en vir mense ’n bietjie van jou persoonlike styl of smaak te wys.
So wat is die eintlike probleem?
Omdat daar gedurig nuwe boeke gepubliseer word, voel mense asof hulle elke maand die nuutste boeke moet koop om op datum te bly met hulle mede-boekwurms op sosiale media. Dit veroorsaak dat mense meer boeke koop as wat hulle kan lees. Nie net is boeke baie duur nie, maar dit dra ook by tot ’n baie materialistiese samelewing, wat ons weet ’n slegte impak op die omgewing het.
’n Ander rede hoekom mense al hierdie boeke aankoop wat populêr geword het op TikTokis sodat hulle kan voel asof hulle regtig deel is van dieBookTok-gemeenskap. As jy genoeg tyd op BookTok gespandeer het, kan jy nog steeds voel asof jy nie regtig deel van die virtuele gemeenskap is nie.
Is jy ’n regte fantasieleser as jy nog nie A Court of Thorns and Roses of Six of Crows gelees het nie?
Baie mense kan voel asof hulle al die populêre boeke op BookTokmoes gelees het om regtig deel te voel van die gemeenskap. Die gevolge hiervan is dat tieners nie eintlik boeke lees wat nie populêr op BookTokis nie, want dis nie wat almal anders besig is om te lees nie.
Hierdie probleme is wel nie noodwendig BookTok se skuld nie, maar eerder ’n probleem in ons al hoe meer materialistiese samelewing en die mens (veral jongmense) se behoefte om deel te voel van ’n groep.
Op die ou einde van die dag is die meeste mense op BookTok daar om nuwe boeke te vind en met mense te praat oor hulle gunstelingboeke en skrywers. So vir meeste BookTok-gebruikers is die TikTok–subkultuur nog steeds ’n tuiste vir boekwurms.
Jana Burger
Hierdie boekwurm is op ‘n missie om soveel as moontlik nuwe tale aan te leer. Jana geniet dit om films te kyk en te analiseer terwyl sy hekel. Sy raak vinnig opgewonde wanneer jy met haar praat oor ‘n boek wat sy al gelees het of ‘n musikant waarna sy luister.