[Jurgen Steyn]
Ek weet nie of baie Dee-Effers weet wie Carel van Dyk (ook bekend as Carlo) in graad agt is nie. Hy is ’n meesterbrein in die kuns van ’n kubus ontsyfer. Die meerderheid van die leerders wat hierdie artikel lees, het al met ’n kubus gespeel, maar net ’n paar het dit al reggekry om een te voltooi (en vir seker nie so vinnig soos Carlo nie).
Carlo het in die skoolvakansie van 21 tot 24 September aan die World Cube Association se African Championships deelgeneem en is in die top-sestig in Afrika geplaas. Die prestasie is behaal net twee jaar nadat hy sy eerste kubus voltooi het.
Sy avontuur het begin toe almal in sy graad ses-klas in Laerskool Panorama ’n kubus gehad het. Hy het ook een gekry. Carlo se suster het dit daardie dag ’n bietjie geskommel, en hy het toe die internet geraadpleeg oor hoe om dit op te los. Van toe af wou hy dit net al hoe vinniger regkry.
Sy ouers het eers agtergekom dat hy talent het toe hy sy kubus in minder as ’n minuut kon voltooi. Hy het op twaalfjarige ouderdom sy eerste kompetisie bygewoon omdat hy gedink het dit lyk nogal lekker. Sy kubusloopbaan is eintlik gebaseer op die feit dat dit lekker lyk.
Hy het 18 kubusse in sy versameling, waarvan hy net nege gebruik. “Ek sal nie kompetisies vir ’n lewe wil doen nie, maar ek het laasjaar amper deelgeneem aan ’n internasionale kompetisie,” sê Carlo. Sy beste tyd om ’n kubus te voltooi is 11.51 sekondes by die huis en 12.41 sekondes by kompetisies. Sy gemiddelde ontleedtyd vir ’n kubus is tussen 16 en 17 sekondes. Weekliks oefen hy rondom vier ure. Sy gunstelingkategorie is 3×3- en 5×5-kubusse.
Carlo se ongelooflike spoed wanneer dit kom by kubusse voltooi, het hom stof in sy opponente se oë laat skop. Sy prestasies maak DF trots.
Jurgen Steyn
Jurgen is ‘n passievolle kok en permanent geboei aan sy gunstelingaksieboeke. As hy nie binnenshuis besig is nie, speel hy gholf of ry padfiets. Jurgen se gunstelingskoolvakke is Engels en wiskunde.