Clash Royale versus Fortnite

[Kobus Strydom]

Baie Dee-Effers het al gehoor van Clash Royale en Fortnite, die internetspeletjies wat ons skool in hulle greep het. Ek het nog nie enige van die twee gespeel nie en het dus navorsing gedoen en onderhoude gevoer om meer oor die obsessie met hierdie internetspeletjies uit te vind.

Prys
Albei speletjies kan verniet van die internet afgelaai word. Vanuit die onderhoude kan die afleiding gemaak word dat minder Clash Royale-spelers ekstra aankope doen. Epic, die stigters van Clash Royale, het ook in 2023 173 mijoen dollar uit die speletjie gemaak. Amper al die Fortnite-spelers het ekstra aankope gedoen. Een van ons DF-leerders het al ongeveer R4 000 op Fortnite spandeer. Fortnite het ook in 2023 ’n wins van 3,5 miljard dollar gemaak. Prysgewys is Clash Royale oor die algemeen goedkoper as Fortnite.

Ouderdom
Fortnite is meer gepas vir hoërskoolleerders, met ’n ouderdomsbeperking van dertien jaar. Clash Royale is gepas vir beide jonger en ouer kinders. As jy na iets soek wat jy saam met jou jonger broer of suster kan speel, is Clash Royale die antwoord.

Einddoel
Fortnite se einddoel is om die laaste oorlewende speler uit 100 ander spelers te wees. Jy moet teen die opponente veg en kyk wie die meeste ander spelers kan doodskiet. Clash Royale se einddoel is om trofees te versamel deur ander spelers dood te maak. Dit word gedoen deur hulle torings te vernietig met die gebruik van 121 unieke speelkaarte.

Populariteit
Fortnite is wêreldwyd een van die populêrste speletjies wat ooit geskep is, met oor ’n miljard mense wat dit al afgelaai het. Fortnite is wêreldwyd ook dubbeld soveel keer afgelaai as Clash Royale. Vroue is 25% meer geneig om Clash Royale te speel. By DF het Clash Royale meer spelers as Fortnite. Wat populariteit betref, wen Fortnite wêreldwyd in alle kategorieë.

Hoe lank kan ek dit speel?
Leerders waarmee ons gesels het, speel Fortnite en Clash Royale vir dieselfde hoeveelheid tyd van min of meer een uur per dag.

Gevolgtrekking
Clash Royle sit minder druk op spelers om tydens die spel aankope te doen, terwyl Fortnite meer gemik is op die ouderdom van DF-leerders. Fortnite is meer populêr as Clash Royale. Clash Royale vereis meer strategiese spel, wat my baie interesseer. As jy van strategie hou, is Clash Royle dus die antwoord. As jy na ’n maklike skietspeletjie opsoek is, met baie geleenthede om verskillende kostuums te koop terwyl jy met jou maats speel, is Fortnite vir jou gemaak. Albei het unieke eienskappe, maar Clash Royale sal my volgende internetspeletjie word.

Wenke van die spelers

  1. As jy op ’n rekenaar speel, is Fortnite die antwoord. Indien jy ’n ander toestel gebruik, is Clash Royale ‘n beter speletjie.
  2. As dit strategie is waarna jy opsoek is, speel Clash Royle. As jy ’n vinnige skietsimulasie soek, dan is Fortnite die antwoord.
  3. Moet nooit Mega Knight gebruik nie.

Helpers en spesialiste van die artikel

  1. Tristan Wiehman-Jutzen
  2. Izabelle Visser
  3. Noah Dewit
  4. Christian Du Toit
  5. Jeandré Coetzee
  6. Owen Whitelam
  7. Grayson Wesson
  8. Wian van den Heever
  9. Dewet Neser

Kobus Strydom

Kobus is ‘n graad 9-leerder wat vetplante versamel en kweek. Sy gunstelingvakke is Afrikaans, geskiedenis en biologie.