Dagbestuur met deursettingsvermoë

[Bella Huisamen]

“Leierskap gaan nie oor ’n titel of ’n posisie nie. Dit gaan oor impak, invloed en inspirasie.” Hierdie aanhaling deur Robin S. Sharma, ’n Kanadese skrywer, som die leierskap en voorbeeld van ons hoofleiers suksesvol op. Al is hulle termyn nog nie eers halfpad nie, is dit duidelik dat hulle ’n goeie impak op die skool en die leerders het. Hulle invloed op die skool is van goeie gehalte en gaan onthou word selfs die dag wanneer hulle nie meer Dee-Effers is nie. Hulle inspireer ons deur hulle voorbeeldige aksies en die moeite wat hulle insit.

Ek het die voorreg gehad om goeie insig te kry oor wat dit vereis om ’n hoofleier te wees deur met Alex Richter, Bella Theron, Matt Oosthuizen en Mika Gelderblom te gesels.

Wat het jou inspireer om vir die dagbestuur te staan?

Bella: DF het oor die afgelope vyf jaar en al ’n hele paar jaar voor dit vir my talle lesse geleer. Lesse oor die lewe, maar ook oor myself. Ek het dus gevoel dat my invloed op die dagbestuur ’n goeie manier is om my dankbaarheid vir die skool te toon.

Alex: Sedert graad 8 hoor ek gereeld van onderwysers en leiers dat ek ’n groot invloed het op ander en hul gedrag. In my beginjare by DF was dit nie dikwels ’n positiewe invloed nie. In graad 10 het ek egter ’n pad saam met die Here begin stap wat my hart verander het en my die begeerte gegee het om goeie dinge te doen. Tydens die leierskapkamp het ek ’n passie ontwikkel om op te staan en ’n stem te wees vir leerders wat dikwels misgekyk of uitgesluit word.

Mika: Ek wou vir die dagbestuur staan nie net omdat dit ’n geleentheid bied om my eie vaardighede te ontwikkel nie, maar om soveel as moontlik nuwe mense te ontmoet en nuwe verhoudings te bou in die beplanning en uitvoering van my take en pligte. Ek weet hoe ’n groot impak ’n mens in iemand se lewe kan maak. Om op die dagbestuur te dien, stel ’n mens in staat om meer probleemareas in die skool raak te sien omdat baie klagtes na jou kant toe kom, en jy direk saam met mense die probleme kan oplos.

Matt: Dis moeilik om slegs een ding te noem aangesien dit meer gegaan het oor die geleenthede wat so ’n posisie my sou bied, maar natuurlik is ek trots op my skool en wil ’n bydrae maak waar ek kan. Deur op die dagbestuur te dien, word ek die geleentheid gebied om baie mense te ontmoet en ’n goeie voorbeeld te stel van iemand wat luister en almal gelyk hanteer.

Beskryf jou leierskapstyl in drie woorde:

Bella: Respekvol, regverdig en vooruitstrewend.

Alex: Demokraties, sagmoedig en nederig.

Mika: Waardegedrewe, diensgerig en empaties.

Matt: Vriendskap, verhoudings en respek.

Hoe balanseer jy skoolwerk met al jou pligte as ’n hoofleier?

Bella: Die groot geheim is om tyd af te sonder vir albei. Die tyd wat ek eenkant sit vir my dagbestuurprojekte word slegs daaraan bestee en die tyd wat ek spandeer aan my akademie, meng met niks anders nie. Daar is natuurlik altyd noodgevalle of uitsonderings, maar balans en selfdissipline speel ’n groot rol.

Alex: Ek gebruik klein oomblikke tot my beskikking (soos ’n LO-periode). Op ’n ernstiger noot gaan dit hoofsaaklik oor goeie beplanning. Ek beplan elke week deeglik op ’n Sondag en identifisrer dan maklik klein gapings waar ek skoolwerk kan doen.

Mika: Ek maak aantekeninge in my notaboekie en sit belangrike datums op my kalender sodat ek kan bybly met al my take. Elke aand voordat ek gaan slaap, pak ek my skooltas en ekstra sakke met byvoorbeeld sportklere in sodat ek nie die volgende oggend rondskarrel opsoek na my skoen of sokkie nie. Deur vooraf en vroegtydig te beplan, maak jy die kanse van ’n suksesvolle dag baie groter.

Matt: Die belangrikste is definitief om jou tyd in die klas goed te gebruik, want anders skiet jy net jouself in die voet. Ek was nog altyd van die oortuiging dat ek nie by die klas moet uitstap as ek erg onseker is of iets nie verstaan nie. Ek het nou wel nog nie ’n matriektoetsreeks teëgekom nie, maar ek is seker ’n mens kan altyd bietjie tyd maak as ‘n mens dit nodig het.

Hoe sal jy graag onthou wil word as ’n hoofleier by DF wanneer jou termyn verby is?

Bella: Ek sal graag onthou wil word as ’n leier wat ‘n verskil gemaak het, maar meestal as iemand wat opreg omgee vir die mense wat sy lei. Iemand wat elke dag probeer het om die lig te wees.

Alex: Ek wil onthou word as iemand met wie almal altyd kon gaan praat. Soos ek in my toespraak genoem het, glo ek dat ’n leier nie bo ander staan nie, maar langs ander.

Mika: Ek wil onthou word as iemand wat nie bang is om moeilike take, wat deursettingsvermoë vereis, aan te pak nie. Hoofsaaklik wil ek onthou word as ’n normale meisie wat altyd mense met ’n liefdevolle gesindheid hanteer en ’n glimlag op hulle gesig sit. My doel as ’n hoofleier in DF Akademie is om te verseker dat almal mekaar liefhet ongeag hulle herkoms en verskillende waardes.

Matt: Ek sal graag onthou wil word as iemand wat verhoudings probeer bou met leerders. As jy wil hê iemand moet luister na jou, sal dit baie help as jy klaar ’n verhouding het waar julle mekaar respekteer. Ek is ook nie iemand wat hou van skel nie, so ek sal graag onthou wil word as iemand wat vriendelik eerder as intimiderend is en almal raakgesien laat voel.

Die hoeveelheid moeite en diensbaarheid wat vereis word om deel van die dagbestuurspan te wees, word beklemtoon in hierdie inligting. Ons as skool is dankbaar om sterk leiers agter die naam DF Akademie te hê.

Bella Huisamen

Bella is ’n avontuurlustige persoon wat dit geniet om nuwe uitdagings aan te pak. Sy spandeer dikwels haar tyd op die hokkie-astro of op die strand.