[Daniella Smith]
Ek is nog skaars ’n maand in DF Akademie, maar ek het al van die heel eerste dag af besef dat DF nie net nóg ’n skool is nie.
Vanaf die oomblik toe ek deur die hekke gestap het, het ek welkom en ingesluit gevoel. Dit was nie net ’n nuwe plek waar ek klasse sou bywoon nie – dit het sommer dadelik soos ’n tweede huis gevoel.
Ja, DF is ’n gewone skool met gewone vakke, gewone toetse en gewone sportsoorte – nes enige ander skool – maar wat DF anders maak, is die mense en die atmosfeer.
Hier groet leerders mekaar in die gange, help mekaar met werk en lag saam op die sportveld. Dit is nie net ’n plek waar jy kom leer nie, dit is ’n plek waar jy behoort en waar jy tuis voel. Dit is soos een groot familie waar almal mekaar ondersteun en mekaar aanmoedig om hul beste te wees.
Een van die dinge wat DF vir my besonders maak, is die vriendskappe. In ’n kort tydjie het ek al soveel nuwe mense leer ken en nuwe vriende gemaak. Sommige van hulle kom uit heeltemal verskillende agtergronde, maar hier by DF maak dit nie saak nie. Ons is almal deel van dieselfde skool en dieselfde familie. Met die VRIEND-waardes wat ons by DF aanmoedig, glo ek regtig dat die vriendskappe wat hier begin, lank sal hou – selfs vir ’n leeftyd.
DF is ook ’n plek met ongelooflike gees. Ek onthou nog hoe ek in graad sewe verskillende hoërskole se opedae besoek het. Baie skole het mooi geboue en goeie sportspanne gehad, maar by DF was daar iets ekstra, ’n energie wat jy sommer kon voel. Die leerders was trots op hul skool en dit het my dadelik aangetrek.
Nou is ek bevoorreg om deel te wees van die 2026 Flashes en dit is ongelooflik om te sien hoe almal saamwerk om iets besonders te skep. Ons skool se gees sou beslis nie so sterk gewees het sonder ons dirigente nie. Die tyd, moeite en energie wat hulle insit, maak ’n groot verskil en inspireer ons om altyd ons beste te gee.
Nog iets wat DF meer as net ’n skool maak, is al die aktiwiteite buite die klaskamer. Hier is daar geleenthede vir elke leerder om iets te vind waarvoor hulle lief is, of dit nou sport, kultuur, musiek, leierskap of gemeenskapsdiens is. Dit gaan nie net oor wen nie, maar om saam deel te neem, nuwe vaardighede aan te leer en selfvertroue te bou. By DF leer ons dat sukses nie net in punte gemeet word nie, maar ook in groei, deursettingsvermoë en spanwerk.
Die onderwysers en personeel speel natuurlik ook ’n groot rol in wat DF so spesiaal maak. Hulle is nie net daar om vir ons huiswerk te gee nie. Hulle is daar om ons aan te moedig om elke dag ons beste self te wees en om ons pasies te volg.
Hulle moedig ons aan om vrae te vra, nuuskierig te wees en nooit op te hou probeer nie. Wanneer iets moeilik raak, is daar altyd ’n onderwyser wat tyd maak om te help of net ’n bietjie aanmoediging te gee. Dit maak ’n groot verskil om te weet dat daar volwassenes by die skool is wat jou ondersteun en in jou glo.
DF Akademie is dus nie net ’n plek waar ek elke dag klas toe gaan nie. Dit is ’n plek waar ek gaan groei, waar ek myself kan wees en waar ek deel voel van iets groters.
Dit is ’n plek vol herinneringe wat nog gemaak gaan word, drome wat gevorm gaan word en vriendskappe wat sterker gaan word.
DF is nie net ’n skool nie.
Dit is ’n familie.
Dit is ’n gemeenskap.
Dit is ’n plek waar harte tuis voel.
Daniella Smith
Daniella is ‘n gr. 8-leerder wat baie daarvan hou om vir haar en haar gesin lekkernye te bak. Sy het ook ‘n groot passie vir dans.
