[Annika van Zyk]
Die 2023-landloopseisoen is in volle swang met ons langasems wat elke Woensdagmiddag hul man staan teen formidabele teenstaanders van regoor die Kaapse Metro. Ten spyte van die ysige wind wat aan hul hakke hap en modder wat net nie wil laat los nie, trap ons atlete vas.
19 April was D-Dag vir die eerste aantreeslag. Hoërskool Stellenberg het hulle hekke oopgemaak vir die eerste byeenkoms. Die kompetisie was straf met afstande wat wissel tussen vier en ses kilometer, afhangend van die ouderdomsgroep.
Opeenvolgende byeenkomste is aangebied by, onder andere, Bernadino Heights, Western Cape Sports School en Fairmont Hoërskool. Alhoewel elke atleet vir sy of haar staanplek moes baklei, is geen ernstige beserings tydens die seisoen aangemeld nie.
Die derde kwartaal bring ons landloopseisoen by sy hoogtepunt. Onder die vlerk van afrigter Christi Thirion, het ons atlete tot dusver uitstekend presteer, met verskeie DF-langasems wat hulle eweknieë die stryd sal aansê tydens die Kaap-Metro-kampioenskappe. Hierdie byeenkoms vind plaas by die CPUT-baan in Bellville op 12 Augustus 2023.
Daarna sien ons uit na die Wes-Kaap-kampioenskappe en uiteindelik die SA-kampioenskappe wat op 30 September 2023 in Limpopo sal plaasvind. Ongeag waar ons atlete deelneem, hou Dee-Effers ons skool se naam hoog. Trap vas, DF-langasems, julle maak ons trots!
Annika van Zyl
Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 9, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.