[Anika Burger, Mieke Verster]
Alhoewel ‘n dirigent se lewe net na opwinding en pret lyk, is daar baie meer wat agter die skerms gebeur. Hier volg Danielle de Villiers, Liza Theron, Anika Richter, Michayla Kotzé, Jean Myburgh, Wilhelm Gelderblom, André Venter, Francé Esterhuyse, Eben Olivier, Mia Groenewald, Kyla van der Riel en Eileen Vermeulen se antwoorde op ‘n paar van ons vrae.
Hoe werk die oudisieproses?
Anika: Ons was eenkant geroep en op ‘n WhatsApp-groep gesit. Ons was amper tagtig mense aan die begin. By die ope-aand het ons saam met die vorige dirigente begin werk en daarna het ons met die uitdunrondtes begin. Ons het daarheen gegaan, ‘n bietjie opgewarm en toe moes ons die medleys doen terwyl die onderwyser vir ons kyk.
Francé: Uit die groot groep van tagtig mense, is daar interhuisdirigente gekies. Meneer de Wet het deur die loop van die interhuisdag na die dirigente gekyk en toe is dit na die huidige groep verminder.
Hoekom wou julle dirigente wees?
Liza: Ek dink ‘n belangrike deel van ‘n dirigent wees, is dat jy deel van iets groter is. Jy is deel van ‘n kreatiewe proses wat al vir soveel jare so baie vir die skool beteken en jy kan sien hoe dit eenheid in die skool bring. Dis ongelooflik bevredigend na vier maande se harde werk.
André: Toe ek in graad 8 was, het ek die dirigente gesien en ek het gedink dat ek dit defintief sal wil doen wanneer ek uiteindelik in matriek is. Ek het van graad 8 tot 11 atletiek gedoen met die wete dat ek eerder in matriek ‘n dirigent wou wees.
Hoekom wou julle drummers wees?
Mia: Ons is nog steeds deel van die hele proses. Ons doen amper alles wat die dirigente doen behalwe dat ons agter die skerms is. Jy kan ook meer as een keer deel van die proses wees en jy verbeter elke jaar jou vaardighede as ‘n drummer.
Francé: In graad 8 was MTBS so ‘n goeie ervaring dat ek defintief deel van die proses wou wees, maar ek kon myself glad nie as ‘n dirigent sien nie en die ander opsie was om ‘n drummer te wees.
Eben: Ek kon dromme speel voordat ek in DF was en vandat ek geweet het wat MTBS was, wou ek ‘n drummer word. Ek kon toe bydra tot die gevoel van eenheid en ek is mal oor dromme speel, so dis net die perfekte kombinasie.
Wat is julle advies vir ‘n leerder wat ook ‘n dirigent wil wees?
Wilhelm: Leer eers die woorde, dan die bewegings.
Eileen: Maak tyd vir oefeninge en om te gaan sit en woorde leer. Jy moet die bewegings van die begin af reg leer, want as jy dit nie onder die knie het nie, het jy nie ‘n fondasie vir dirigentskap nie.
Anika: Dit lyk altyd baie glamorous om ‘n dirigent te wees. Dit is baie lekker en dis ‘n fantastiese geleentheid om jouself te laat groei, maar dit is ook baie harde werk en jy stel jouself aan ‘n klomp mense wat jou gaan oordeel, bloot. Jy moet onthou dat jy dit nie net vir jouself doen nie, maar ook vir die skool. So jy moet regtig ‘n passie vir die groter prentjie hê.
Kyla: En op daai noot: Jy moet dit geniet!
Waarna sien julle die meeste uit tydens interskole?
Jean: Ek sien uit na die gees, want ek dink MTBS-week was een van die beste weke wat ons in ‘n lang tyd by die skool gehad het en ek dink by interskole gaan die gees nog meer wees.
Mickayla: Ek sien uit na die eenheid wat dit gaan skep en ek dink dit gaan baie goed wees vir die skool om saam te staan in iets wat ons wil bereik, byvoorbeeld om interskole te wen, maar dit terselfdertyd ook te geniet.
Wat is die beste deel van ‘n dirigent wees?
Francé: Ek dink die beste deel is om die vordering te sien van waar ons begin het om die kreet te skryf tot hoe dit in werklikheid deur die skool opgevoer word. Dit het gegaan van die blokkiespapier na pixels van mense in die skare.
Mia: Dis iets wat ons self ontwerp het, so dis ons eie en dit maak dit net nog meer bevredigend.
André: Vir my is dit om te sien watter impak jy op die skool maak, om te sien watter gees jy geskep het, hoe baie geluk jy vir ‘n klomp kinders gebring het en hoe dit die skool bymekaar gebring het, want al het ons nie die MTBS gewen nie, het ons saam in ander opsigte gewen.
Anika: Om die skool se reaksie te sien op dit waaraan ons vir so lank gewerk het en dat almal hulle verskille opsy kon sit sodat ons kon saamwerk aan een doel en net om te sien hoe dit die skool verenig het. Dit was ook vir ons wat deel was van die proses so ‘n groot geleentheid om te groei. Ek was nog altyd bang om ‘n mondeling voor ‘n klas te praat en nou is ek gewoond daaraan, nadat ek voor ‘n hele skool moes praat. Dit wys ook vir jou dat jy soveel sterker is as wat jy gedink het, want dit het ons almal tot ons limiete gestoot en dit was so ‘n goeie geleentheid om onsself te ontdek en te versterk.
Wilhelm: Ek dink een van die beste goed is om te hoor hoe ‘n gehoor van omtrent ‘n duisend mense die woorde vir jou terug skree wat jy geskryf het.
Kyla: Een van die beste goed van ‘n dirigent wees, was definitief om die gees eerstehands te beleef en om die voorreg te hȇ om saam met hierdie span te werk.
Wat is die slegste deel van ‘n dirigent wees?
Liza: Ons moes elke liewe keer stoele regpak en met rekkies vasmaak en dit moes in presiese rye wees, want die prentjie kon nie opgemors geword het nie.
Eileen: Die slegste deel is dat dirigente nooit moeg word nie.
Wat is die belangrikste eienskap van ‘n goeie dirigent?
Liza: Deursettingsvermoë
Andre: Passie
Danielle: Hardwerkendheid
Eben: Dissipline
Eileen: Geduld
Anika: Aanpasbaarheid
Soos wat ons kan sien, is ‘n dirigent se lewe baie moeiliker as wat dit lyk, maar hierdie dirigente gee daagliks alles wat hulle kan en hulle hoop om ons hierdie jaar by die interskole, en by toekomstige geleenthede, trots te maak.
Anika Burger
Mieke Verster
Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.
Anika geniet dit om tyd saam met vriende en familie te spandeer. By die skool is haar gunstelingvakke Engels, Duits en ontwerp. In haar vryetyd is sy waarskynlik besig om te lees, musiek te luister of flieks te kyk.