[Kobus Strydom]
Johann van Niekerk se reis om sy eie besigheid, Biltong Bites, te begin is beslis inspirerend en met sy deelname aan die Maak my ’n miljoenêr-projek neem hy hierdie sukses nog verder. Kom ons volg Johann se reis na sukses en sy wenke om jou eie besigheid te begin.
Johann se reis het in 2025 begin toe hy deur sy pa aangemoedig is om biltong te begin verkoop. Biltong Bites is gebore. Johann het sy besigheid begin met net R1 000 kapitaal wat hy bymekaargemaak het deur sakgeld te spaar. Later het hy besluit om sy eie biltong en droëwors te produseer met ’n spesiale mengsel van heerlike speserye.
Johann se doel met die besigheid is om werk en geleenthede te skep. Hy wil graag sy besigheid laat groei en daarna in eiendom begin belê. Johan wil in die toekoms uitbrei en meer produkte, soos ander geure van biltong en gedroogte vrugte, verkoop. Johann bemark tans sy besigheid met die hulp van Carlo van Dyk deur gebruik te maak van Instagram.
Maak my ‘n miljoenêr het ’n ongelooflike invloed op Johann se lewe gehad. Hy het die geleentheid gekry om nuwe mense te ontmoet, nuwe ervarings te beleef en om uit hierdie mentorskapprogram nuwe vaardighede te leer. Johann is deur die program gementor en is baie dankbaar oor alles wat hy daar deur kon leer. Saam met sy kennis van die entrepreneursklub, wil hy graag sy kennis met DF se toekomstige entrepreneurs deel.
Hierdie jaar het Johann en ander DF-entrepreneurs die entrepreneursklub gestig wat kinders aanmoedig en oplei om die entrepreneurs van môre te wees. Tans het die entrepreneursklub 13 lede. Johann hoop dat sy passieprojek, die entrepreneursklub, ’n amptelike klub by DF sal word en dat leerders erekleure sal kan verwerf deur hul betrokkenheid hier. Sy hoop is om dit uit te brei en nog leerders betrokke te kry.
Johann het ’n groot invloed op ons skoolgemeenskap. Sy passie vir entrepreneurskap het reeds baie leerders gemotiveer om hul drome te bereik.
Raad van Johann:
- Jy moet altyd ’n noodfonds hê. Johann moedig nuwe entrepreneurs aan om twee maande se inkomste eenkant te sit vir ‘n noodfonds.
- Jy moenie bang wees om vir kwaliteit produkte te betaal of om iets aan te pak wat vir jou dalk lank mag duur nie. Om ’n besigheid te begin, neem jy ’n groot risiko, maar dit bied groot belonings.
- Een van die voordele van ‘n entrepreneur is om in ’n mate finansieel onafhanklik te wees.
Kobus Strydom
Kobus Strydom is in graad 9 en versamel en laat groei vetplante. Hy is deel van die tuinklub en sy gunstelingvakke is Afrikaans, geskiedenis en biologie.
