Die 2024 Australiese Grand Prix: ‘n Analise

[Jean-Mari Vos]

Jaarliks is die Formule 1 Australiese Grand Prix ‘n groot twispunt as gevolg van alles wat verkeerd loop. Hierdie jaar s’n was nie ‘n uitsondering nie.

Kom ons begin met tien-teen-een die grootste storie: Max Verstappen en Lewis Hamilton wat van die resies moes onttrek. Ek weet. Dit klink onwerklik dat twee van Formule 1 se grootste name hul albei aan dieselfde wedren onttrek, maar Australië hou altyd ‘n verrassing in. 

Max Verstappen het in die derde van die 85 rondtes onttrek nadat hy van eerste plek na laaste plek gesak het. Max het oor sy spanradio geskree dat daar rook by sy regterkantse wiel uitkom. Almal het gedink dat sy Pirelli-wiele, wat in die verlede drama veroorsaak het, aan die brand geslaan het, maar dit was nie die wiele nie. Die oorsaak van hierdie kortgeknipte wedren was Verstappen se onderstel se remme wat aan die brand geslaan het. Dit het veroorsaak dat Max moes toekyk hoe sy spanmaat alleen veg vir ‘n plek op die podium. Dit het gebeur nadat Red Bull Racing veranderinge aan die kar se enjin gemaak het, wat gerugte begin het dat Red Bull Racing hul RB21 onder te veel druk plaas. 

Hommeltuig-beelmateriaal van Max Verstappen wat homself aan die wedren onttrek:

https://www.formula1.com/en/latest/video.2024-australian-grand-prix-huge-drama-in-melbourne-as-verstappen-is-out-on-lap-5.1794383206694124062.html

Nou mag jy dalk vra hoe Lewis Hamilton hom aan die resies onttrek het? In die sewentiende rondte het Hamilton oor sy spanradio uitgeroep dat die kar krag verloor het. Hy het homself so vinnig as moontlik van die baan af probeer kry en op die grasperk tot stilstand gekom, waar sy kar toe weggesleep is. Dit is bekend gemaak dat die Mercedes-bestuurder se enjin gebreek het. Dit was geen skok nie, siende dat Mercedes se W15 die vyfde swakste kar is. Geen wonder Lewis se dae met Mercedes word hierdie seisoen beëindig nie.

Lewis Hamilton toe sy kar se enjin ingee:

https://www.formula1.com/en/latest/video.2024-australian-grand-prix-engine-failure-causes-dnf-for-hamilton-in-melbourne.1794382963531411102.html

Alhoewel jy sal verwag dat Lewis Hamilton se medebestuurder die resies sou voltooi, het hy ongelukkig nie. George Russel het in die laaste rondte van die resies dramaties verongeluk nadat Aston Martin se Fernando Alonso skielik, teen ‘n hoë spoed, rem getrap het. Alonso is na die wedren ‘n 20-sekonde straf gegee vir roekelose bestuur. 

George Russel toe hy beheer verloor het oor sy kar:

https://www.formula1.com/en/latest/video.2024-australian-grand-prix-big-crash-for-russell-on-the-penultimate-lap-at-albert-park.1794388684955420764.html

Na al die fratsongelukke, kan ons nou beweeg na ander nuus: ‘n Ferrari-dubbelpodium, Carlos Sainz wat homself bewys as een van die beste bestuurders en vele meer.

‘n Ferrari-dubbelpodium is nie wat ek verwag het nie, maar nietemin het ons dit ontvang. Nommer een op die podium was niemand anders nie as die Spaanse bestuurder, Carlos Sainz. Carlos Sainz het homself bewys as een van die beste bestuurders hierdie seisoen. Hierdie seisoen is sy laaste een saam met Ferrari. 

Nommer twee op die podium is Sainz se medebestuurder, Charles Leclerc. Charles het ‘n uitstekende wedren gehad. Sy tempo was wel nie vinnig genoeg om sy spanmaat agter hom te hou nie, en hy het geen ander opsie gehad behalwe om hom verby te laat gaan nie. Die twee Ferrari-bestuurders het hul oorwinning gevier saam met McLaren se Lando Norris. Hierdie Belgiese bestuurder het homself ook bewys as een van die beste bestuurders in Formule 1, al is hy in sy vroeë 20’s. Hy het die derde posisie op die podium beklee.

Dit was ‘n vernederende wedren vir Australië se eie Daniel Ricciardo, wat vir Visa Cash App Red Bull bestuur. Daar was sprake dat Ricciardo ‘n ultimatum gegee is na die Australiese Grand Prix: of hy verbeter of Liam Lawson, wat onlangs in die World Endurance Championship gery het, sal sy plek neem saam met Yuki Tsonoda. Hierdie seisoen is een van Ricciardo se swakste seisoene sover, wat almal laat debatteer of dit Ricciardo se tyd is om af te tree. In kontras met Daniel Ricciardo, het Australie se eie Oscar Piastri die vierde posisie beklee. Oscar het in 2023 by die Papaya-span aangesluit en die nuweling van die jaar-prys ontvang vir sy uitstekende eerste seisoen. 

Dit was ook ‘n rowwe wedren vir die Amerikaanse bestuurder, Logan Sargeant. Vrydag, gedurende die eerste oefensessie op die Australiese teer, het Williams Racing se bestuurder, Alex Albon in ‘n ongeluk beland. Dit het hom sy kar gekos. Williams Racing het nie ‘n spaaronderstel gereed gehad vir Australië nie en het Logan Sargeant uit sy kar gepluk en die kar vir Albon gegee.

Dit het baie kontroversie op sosiale media veroorsaak. Baie aanhangers glo dat dit onregverdig was om Sargeant se kar vir Albon te gee as Albon sy eie kar beskadig het. Nie net het Williams Racing ‘n waardevolle wedren van Logan weggeneem nie, maar hulle het ook sy selfvertroue in homself weggeneem, iets wat geen bestuurder verdien nie.

Terselfdertyd is daar aanhangers wat glo dat dit reg was om Sargeant se kar vir Albon te gee, siende dat Albon ‘n beter bestuurder en meer ervare as Logan is en die kans sal verhoog om die span punte te laat kry. Die enigste probleem is dat Albon nie enige punte gekry het nie. Maar niemand praat oor die grootste kwessie nie: die feit dat Williams Racing nie ‘n spaaronderstel het nie. Dit bewys dat Williams Racing dus nie gereed was vir die 2024-seisoen nie. 

Alex Albon toe hy sy kar in die hindernisse instuur:

https://www.formula1.com/en/latest/video.2024-australian-gp-fp1-albon-crash-brings-out-the-red-flags-in-first-practice.1794193700507604969.html

Die 2024 Australiese Grand Prix was definitief ‘n hoogtepunt en ek kan nie wag om te sien hoe die res van die komende wedrenne gaan verloop nie.


Jean-Mari Vos

Jean-Mari is ‘n entoesiastiese meisie, wat graag skryf oor alles waarvan sy hou, soos Formula 1, Stray Kids (die musikante) en vele meer. Haar gunstelingvak is biologie. Sy hou ook baie van piekniek en om aanlyn inkopies te doen.