[Nienke de Vaal]
If everybody had an ocean
Across the U.S.A.
Then everybody’d be surfin’
Like Californi-a
You’d seem ’em wearing their baggies
Huarachi sandals too
A bushy bushy blonde hairdo
Surfin’ U.S.A.
Met die mannetjie wat sonder grense branderplank ry op die groot golwe van leerders se skoolbaadjies, het een van die Beach Boys se treffers, “Surfin’ USA” (wat ’n hergeskrewe weergawe van Chuck Berry se 1958 liedjie “Sweet Little Sixteen” is) ’n verskynsel in DF se wenner MTBS-kreet van hierdie jaar gemaak.
Die Beach Boys is ’n Amerikaanse rockgroep wat in 1961 gestig is en het oorspronklik uit die drie Wilson-broers, Brian, Carl en Dennis, hul nefie, Mike Love en vriend, Al Jardine bestaan.
Hul forte is briljante vokale harmonieë en innoverende lirieke wat Kalifornië se jeugkultuur en die son-deurdrenkte somers vol van surf en jong liefde vasgevang het.
Die Beach Boys het in die 1960’s meer suksesvol en populêr begin raak. Hierdie swinging 60’s was die helder en kleurvolle era van popkuns en die kenmerkende kort rompies en geometriese patrone sowel as dwelmgebruik, wat in die psychedelic popgenre van musiek oorgeloop het. Daar was groot kulturele veranderinge wat veral in die jeug plaasgevind het.
Gedurende hierdie dekade het musiekgroepe soos die Rolling Stones, Pink Floyd, The Who en, laaste maar nie die minste nie, die alombekende Beatles oor mense se radio’s regoor die wêreld geëggo.
Die Beach Boys en die Beatles het selfs ’n vriendelike en kreatiewe kompetisie met mekaar gehad. Beide groepe was aanhangers van mekaar en het inspirasie vir mekaar se musiek gebied. Die popgenre het juis vinnig gedurende die 1960’s ontwikkel omdat dié twee musiekgroepe mekaar herhaaldelik so probeer oortref het. Die Beatles se Rubber Soul het Brian Wilson geïnspireer om Pet Sounds te skryf wat weer ’n groot invloed op Beatles se Sgt. Pepper’s Lonely Hearts Club Band-album en die liedjie “Strawberry Fields Forever” gehad het.
“God Only Knows” word deur die meeste mense geag as die beste Beach Boys-liedjie en hierdie sentiment word gedeel deur Paul Mcartney, wat selfs verklaar het dat dié hartverskeurende liefdeslied sy gunsteling van alle tye is.
Tussen die 1960’s en 2020’s het die Beach Boys oor ’n 100 miljoen plate wêreldwyd verkoop, met oor die 80 liedjies wat die toplyste bereik het. Hulle het 36 liedjies in top 40-lyste, met vier wat die eerste plek behaal het. (“I Get Around” (1964), “Help Me Rhonda” (1965), “Good Vibrations” (1966) en “Kokomo” (1988))
Die Beach Boys was en is beslis ’n ikoniese musiekgroep met talle trefferliedjies en albums agter hul naam. Hulle musiek se invloed op kunstenaars strek, tot en met vandag, oor musiekgenres en -bewegings. ’n Briljante bewys hiervan is die Seven Symphonies: A Classical Tribute To Beach Boys Music.
Ek het die wonderlike voorreg gehad om gelukkig (deur my ouers se kontakte) gratis kaartjies vir die Suid-Afrikaanse premiere van die Seven Symphonies: A Classical Tribute To Beach Boys Music te kry.
Dis toevallig dat ek ook ’n massiewe aanhanger van die Beach Boys se musiek is en orkeskonserte oor die algemeen baie geniet. Dié konsert was ’n onverwagse hoogtepunt van my vakansie, selfs al het ek met min kennis en hoë verwagtinge my sitplek in die Endlerteater in Stellenboch op Saterdag, 23 Maart ingeneem.
Die konsert is deur die Kaapse Filharmoniese Orkes onder die leiding van die befaamde dirigent, Alexandra Arrieche aangebied. Hierdie Suid-Afrikaanse premiere van die Seven Symphonies het die reeks van drie, insluitende die wêreldpremiere in Antwerpen in Junie 2022 en die Amerikaanse premiere in September 2023 afgesluit. Die sewe simfonieë is gebaseer op 33 verskillende Beach Boys-liedjies wat deur Rob Weelde gekies en deur Roeland Jacobs saamgevoeg is.
My gunstelingsimfonie is die noemenswaardige finale, “Pet Symphony”, gebaseer op die Beach Boys se legendariese popalbum, Pet Sounds. Alhoewel daar kort-kort bekende deuntjies in die simfonieë was, kon ek die meeste in die “Pet Symphony” herken. Met my gunsteling-Beach Boys-liedjie, “Caroline, No” het die klawesimbel en franse horings beslis bo die res uitgestaan. Die perfekte einde met “God only Knows” het die unieke konsert, waar pop en klassiek hande vashou, op ’n kragtige manier afgesluit.
Die Antwerpen Filharmoniese Orkes se opname van die Seven Symphonies is boonop vir almal se genot op Spotify beskikbaar. Dis dus perfek om na ’n uitputtende skooldag te ontsnap met die fees van klanke en melodieë wat in jou kamer rondsweef. Dalk is dit die perfekte alternatief vir Mozart wanneer jy vir die Junie-eksamen studeer.
Nienke de Vaal
Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.