[Hanler van Eck]
Het jy al ooit gewonder hoe daardie natuurlike masjien in jou kop eintlik werk? Die manier waarop jy soms vreeslike slim besluite neem, maar ander kere net jou kop teen die muur wil stamp? Die brein is nie net ’n rommelpot van onwillekeurige idees nie. Jou brein bestaan uit verskeie dele wat elkeen hul doel verrig om die beste weergawe van jouself te skep, solank jy net nou en dan die ratte van jou natuurlike masjien herstel.
Die prefrontale korteks: besluite, besluite!
Die prefrontale korteks is soos die verantwoordelike volwassene in die vertrek. Hy sê vir jou: “Moet asseblief nie ’n TikTok-dansvideo maak wanneer jy eintlik vir jou wiskunde-toets moet leer nie.” As jy dus die aand besluit om vir jou toets te studeer in plaas daarvan om ’n maraton van jou gunstelingreeks te kyk, kan jy jou prefrontale korteks bedank. Maar as jy tog die reeks kyk en skielik drie ure later wakker skrik, weet jy vir wie om die skuld te gee. Dit is beslis ’n goeie idee om vir jou prefrontale korteks te luister en soos goeie DF-leerders luister ons … soms.
Die limbiese stelsel: Inside Out in die werklikheid
Jou limbiese stelsel help jou om ongemaklike situasies, rakende die sikloon van tieneremosies, te navigeer. Hierdie deel van die brein besit ook die amigdala wat soos jou paniekerige vriend optree. Jou amigdala is verantwoordelik vir jou angsgevoelens soos verhoogde polsspoed en sweeterige hande. Hy wil net hê jy moet oplet, maar soms is hy ’n bietjie oordramaties. Die amigdala kan vergelyk word met die antagonis, Anxiety, in Pixar se nuwe trefferfilm, Inside Out 2.
Die hippokampus: ’n stroom van herinneringe
Die hippokampus tree op as jou grondbewaarder vir jou geheueboord, ryk aan talle herinneringe. As jy onthou dat jy die vorige keer baie goed presteer het in ’n toets omdat jy vroegtydig begin studeer het, is dit jou hippokampus wat jou help om dit te onthou. As jy vergeet het waar jy jou Afrikaanse handboek gelos het, kan jy maar seker wees jou hippokampus het dalk ’n koffiebreek geneem.
Hoe beïnvloed jou brein jou persoonlikheid? As jou prefrontale korteks jou natuurlike masjien oorheers, is jy waarskynlik daardie persoon wat altyd kalm bly en logiese besluite neem, soos om nie op ’n spontane impulsaankoopmissie te gaan net omdat daar ’n uitverkoping is nie. As jou amigdala die botoon voer, kan jy dalk die een wees wat oor alles paniekerig raak, soos om te dink die wêreld eindig omdat jy jou huiswerktaak vergeet het. Of jy nou meer kalm en logies optree of meer paniekerig en voorbereid is, dien jou brein jou met absolute trots.
Die volgende keer as jy ’n groot besluit moet neem of voel jy gaan uitmekaar val, onthou: dis net jou brein wat sy bes probeer. Gee hom ’n blaaskans en dalk ’n bietjie donkersjokolade. Dit is wetenskaplik bewys dat dit help!
Hanler van Eck
Hanler is beslis ‘n liefhebber van die literêre wêreld. As jy hom nie op die astro of by kooroefeninge opspoor nie, sal hy waarskynlik in die kombuis wees, besig om geflopte nageregte te maak.