Die euforie van koud stort

[Sandrine Steyn]

Die Atlantiese oseaan: Toontjie vir toontjie, met versigtige treë dwing jy jouself in die ysige see in. Die koue water stuur skokgolf sensasies tot by jou brein en skree paniekerig vir jou om te vlug. Jy huiwer en wil omdraai, maar dan oorrompel ‘n monsteragtige brander jou en forseer die laaste bietjie gevoel uit jou pers tone en spartelende arms uit. Jy snak na jou asem en probeer so gou as moontlik uit die water kom. Op die strand raak jy bewus van ‘n gevoel van euforie. Jy lag uitbundig en voel skielik verfris en energiek. Waarom?

Studies toon dat blootstelling aan koue water, byvoorbeeld as jy stort of swem, vele voordele inhou vir fisiese en geestelike welstand. Die gevoel van euforie wat jy ervaar, is ‘n produk van endorfiene wat in die brein afgeskei word. Die aanvanklike effek van yskoue water op jou liggaam dien ook as ‘n tipe versagte vorm van elektroskokterapie en is verantwoordelik vir die skielike helderheid wat jy ervaar. ‘n Studie wat gedoen is op ‘n groep mense wat elke dag ‘n koue stort geneem het teenoor ‘n groep wat aangehou het met warm storte, het getoon dat die meerderheid mense wat koue storte geneem het se stres- en depressiesimptome verminder het.  Hul produktiwiteitsvlakke het ook verhoog. 

Koue water verbeter die liggaam se bloedsirkulasie. Dit is dus voordelig vir jou vel en hare en die herstel van jou spiere na oefening. Die skielike verandering in temperatuur versterk ook jou immuunsisteem. Leukosiete (witbloedselle) word gestimuleer en siektes word meer effektief beveg. Teenstrydig met ‘n algemene mite, is daar geen bewyse dat die verandering in temperatuur ‘n nadelige invloed op die individu se vatbaarheid vir siektes het nie.

Is die bogenoemde feite wel die ongemak van ‘n daaglikse koue stort werd? En hoe kry jy jouself sover om gewoond te raak hieraan? ‘n Moontlike strategie is om die roetine eers in die somer te begin, eerder as in die winter. Dus is nou die perfekte tyd om ‘n nuwe gewoonte te kweek! Nog ‘n oplossing is om eers te begin met ‘n louwarm stort voordat die koue kraan aangedurf word. Verwelkom dus ‘n paar sekondes van ongemak in jou dag-tot-dag-roetiene en omspoel jouself met die voordele wat daarmee gepaard gaan. En wie weet, teen Desember voel die Weskus-strande se water soos badwater vir jou.

[Foto: iStock]


Sandrine Steyn

Sandrine is ‘n passievolle danser en dol oor diere. Sy vind aanklank by vakke soos musiek en wiskunde en geniet die vermaak van ‘n boeiende boek. Vanjaar is sy in graad 11 en neem graag deel aan Afrikaanse debat. Kom gesels (of argumenteer) gerus met haar!