[Kobus Strydom]
Die mense wat meer as enige ander groep deur die geskiedenis vergeet word, is die Cagots. Die Cagots was ’n groep mense in die weste van Frankryk wat tot vandag toe nog gedompel is in raaiselagtige geheimsinnigheid. Wat het van hulle geword, en waar het hul vandaan gekom? Dit bly steeds onbekend. Hulle is vir meer as 700 jaar gehaat en het toe net spoorloos verdwyn.
Oorsprong van die Cagots
Die eerste keer wat die Cagots in die literatuur genoem word, is in die 10de eeu in geskrifte van die Sint Vincent-abdy. Iets om in ag te neem, is dat die Cagots dieselfde gelyk, gepraat en geglo het as hul bure, die Franse. Die oorsprong van die woord Cagots is ook ’n geheim, maar daar word geglo dat dit ‘n samestelling was van chaos en goths, wat “honde van die Duitsers” beteken. Goths is ‘n verwysing na die antieke Duitse stam. Daar is vyf hoofteorieë oor hul oorsprong:
- Hulle is die nageslag van die Wesgote. Die Wesgote was ’n Duitse stam wat die Romeinse Ryk in die 4de eeu ingeval het.
- Hulle is die nageslag van die Kathare, ’n heidense Christelike groep (‘n groep mense wat hierdie twee sienings gekombineer het) wat in die 1350’s deur die Katolieke kerk uitgewis is. ‘n Groot probleem met hierdie teorie is dat die Cagots al vir 200 jaar voor die Kathare bestaan het.
- Hulle is die nageslag van melaatses of mense met sielkundige probleme.
- Hulle is die nageslag van ’n vervalle gilde van skrynwerkers.
- ’n Algemene mite is dat hulle die skrynwerkers is wat die kruis gemaak het waarop Jesus gekruisig was, en as gevolg hiervan is hulle vervloek.
Diskriminasie teen die Cagots
Diskriminasie teen die Cogots het in baie vorme voorgekom. Cagots kon nie boer nie. Cagots moes in hul eie krotbuurte woon: Quartier des Cagots. As ’n nie-Cagot met ’n Cagot sou trou, sou hulle en hul kinders Cagots word.
Cagots moes ’n simbool van ’n geel eendvoet op hul bors dra om hulle af te sonder van die Franse. Selfs die kerk het hulle as minderwaardige mense beskou. Cagots is geforseer om deur kleiner deure te gaan as die Franse. Die staat en regering in Frankryk en hul buurland wou die diskriminasie stop, maar die haat teen hulle was op ’n dieper kulturele vlak as net wetgewing.
Ooggetuies van die veldtog teen die Cagots sê dat hulle nie kon aflei of iemand ‘n Cagot was deur met hulle te praat, na hul te kyk of na aanleiding van hul name nie.
’n Teorie is dat hulle ’n vorm van melaatsheid gehad het (wit melaatsheid). Hulle sou dus melaats wees, maar geen simptome wys nie en steeds die siekte versprei. Dit sou ‘n verduideliking bied vir waarom hulle verbied is om te boer, nie toegelaat is om kaalvoet in die publiek te wees nie, nie met geld mag gewerk het nie en nie toegelaat is om in nie-Cagot Franse buurte te woon nie.
Wat het met die Cagots gebeur?
Daar was nooit meer as ’n paar duisend Cagots nie. Na die Franse Revolusie het die stigma om ’n Cagot te wees begin verdwyn. Wat het met die Cagots gebeur? Het hulle na nuwe stede en lande getrek en vir niemand gesê van hul identiteit nie? Het hulle met verloop van tyd deel geword van die groter samelewing? Vandag word niemand meer ‘n Cagot noem nie. Byna ’n duisend jaar van stories, kultuur en hul eie manier van lewe in hul krotbuurte het verdwyn, waarskynlik uit vrees om hul storie te vertel en om beskou te word, soos in die verlede, as een van die geheime Cagots.
Kobus Strydom
Kobus is ‘n graad 9-leerder wat vetplante versamel en kweek. Sy gunstelingvakke is Afrikaans, geskiedenis en biologie.
