Die geheime van jou gut feeling

[Emma du Toit]

Het jy al ooit ‘n knaende gevoel gekry dat jy ‘n sekere situasie moet vermy? Selfs al kon jy nie verduidelik waarom nie? Dalk het jy iemand ontmoet en onmiddellik geweet iets is nie pluis nie, sonder enige konkrete rede. Dit word ‘n gut feeling genoem. Wat presies is hierdie verskynsel? Is dit werklik of net jou verbeelding? En wat dink wetenskaplikes oor gut feelings?

‘n Gut feeling, ook bekend as intuïsie of jou sesde sintuig, is ‘n instinktiewe gevoel wat ontstaan sonder enige bewyse of redenasie. Dit is daardie innerlike stem wat jou lei, dikwels sonder dat jy presies weet waarom.

Vir honderde jare het intuïsie ‘n slegte reputasie onder wetenskaplikes gehad. Debra Ruder, ‘n mediese skrywer by die Dana-Farber Cancer Institute, skryf dat navorsers eers onlangs ontdek het dat intïusie werklik is en aan die komplekse interaksies tussen die brein en ingewande gekoppel is. Die ingewande word dikwels die “tweede brein” genoem omdat dit sy eie senuweestelsel het – die enteriese senuweestelsel. Hierdie stelsel kommunikeer met die brein deur die vagussenuwee, wat seine heen en weer stuur.

Jou gut feeling is eintlik jou brein se manier om ‘n vinnige sein na jou liggaam te stuur, wat jou waarsku oor potensiële gevaar of jou ‘n gevoel van versekering gee, gebaseer op hierdie onbewuste prosesse.

Stel jou voor jy loop in ‘n donker stegie. Jy neem alles om jou waar – die geluid van voetstappe, die flikker van ‘n straatlig, die geritsel van blare. Selfs al registreer jy nie hierdie dinge bewustelik nie, verwerk jou brein dit. As iets nie reg voel nie, kan jou gut feeling jou vertel om om te draai en ‘n veiliger roete te vind. Dit is jou brein se manier om jou te beskerm, gebaseer op subtiele aanwysings waarvan jy nie eens bewus is nie.

So, moet jy jou gut feeling vertrou? Psigiatriese verpleegkundige en sielkundige, dokter Timothy Legg, sê die antwoord is ‘n gebalanseerde ja. Gut feelings kan ‘n waardevolle hulpmiddel wees, veral wanneer jy vinnige besluite moet neem. Dit is egter noodsaaklik om dit te kombineer met logiese denke en bewyse, veral in komplekse situasies.

Om saam te vat, gut feelings is ‘n fassinerende interaksie tussen ons brein en liggaam, gewortel in neurobiologie. As jy dus volgende keer daardie onverklaarbare drang kry, onthou dat dit jou liggaam se manier is om jou deur die kompleksiteite van die lewe te lei. Vertrou dit, maar bevraagteken dit ook – en jy sal die regte balans vind.

Emma du Toit

Emma is lief vir hokkie en draf graag wanneer sy tyd kry. Sy het ‘n tweelingsuster en is in matriek. Sy is versot daarop om te bak en die lekkernye met haar vriende te deel.