[Magriet de Klerk]
Ons glo dat almal in DF Akademie bewus is van ons meisiesrugbyspan. Dalk het jy hulle al sien oefen of selfs na ʼn wedstryd of twee gekyk. Maar het jy geweet dat hulle een van DF se mees suksesvolle sportspanne is?
Meisiesrugby het in 2022 by DF begin toe afrigter Viaan Jonker deur sy rugbyklub Up and Under rugby vir meisies by DF begin aanbied het. Die sport het egter nie baie vinnig gegroei in die skool nie. Die meeste wedstryde was 7’s of 10’s omdat daar net eenvoudig nie genoeg spelers was om ʼn span van 15 vol te maak nie. Die gebrek aan getalle het egter nie die spelers gekeer nie en hul liefde vir rugby het net vermeerder.
Dit word bewys deur spelers soos Anushka Groenewald en Anja le Roux wat in 2022 rugby by DF begin speel het. Vandag speel Groenewald vir die Springbok-vroue en Le Roux vir die Springbok-vroue se sewespan. In 2022 het die meisiesrugbyspan 60% van hul wedstryde gewen. Hulle het altesaam 179 punte aangeteken, terwyl hul teenstanders slegs 130 punte teen hulle kon aanteken. DF se eerste jaar van meisiesrugby was grotendeels ʼn sukses.
In 2023 het meisiesrugby in DF verder uitgebrei deur meer meisies wat by die span aangesluit het. In 2023 het die meisiesrugbyspan weereens ongeveer 60% van hul wedstryde gewen. Tien wedstryde is gewen, ses wedstryde is verloor en een wedstryd is gelykop gespeel.
Alhoewel die resultate vanaf 2022 tot 2023 nie veel verander het nie, was daar baie ontwikkeling wat plaasgevind het onder die spelers. Die DF-meisiesrugbyspan het vervolgens in 2023 op hul heel eerste rugbytoer vertrek. Die Knysna 7’s-toer het plaasgevind vanaf 29 September tot 1 Oktober 2023 en DF het die derde plek in die toernooi behaal.
In 2024 het meisiesrugby in DF verder gegroei, met meer spelers wat vir die Westelike Provinsie (WP) se o. 16- en o. 18-spanne genomineer en gekies is. Nege spelers is genomineer vir die WP se o. 16- en o. 18-spanne waarvan ses gekies is. Hierdie ses spelers het dus hul provinsie by die 2024 SA Rugby U16 and U18 Girls Week by Hoërskool Jeppe in Johannesburg verteenwoordig. Die verhouding wat gevolglik sou ontstaan tussen die DF-meisiesrugbyspan en WP het verdere ontwikkeling vir al die spelers sowel as die afrigters tot gevolg gehad.
Die tydperk van 2025 tot 2026 staan vir die DF-meisiesrugbyspan bekend as die Goue Era van meisiesrugby. Dit is omdat die DF-meisiesrugby se eerste span 100% van ligawedstryde, vriendskaplike wedstryde, 7’s-wedstryde en toernooie tydens 2025 sowel as 2026 gewen het. Verder is vyf spelers, naamlik Ava Heydenrych, Megan Abrahams, Magriet de Klerk, Carla Esterhuysen en Jessie Schoeman, gekies vir onderskeidelik die WP se o. 15-, o. 16- en o. 18- spanne tydens 2025 en 2026. ʼn Verdere drie spelers, naamlik Megan Abrahams, Magriet de Klerk en Jessie Schoeman, is gekies vir Springbok-kampe of -toernooie tydens 2025 en 2026.
Meisiesrugby in DF Akademie het al hoë hoogtes bereik, en is steeds besig om te groei en ontwikkel. Volgende keer as jy nie weet wat om met jou Saterdag te doen nie, gaan maak dalk ʼn draai by die rugbyveld en ondersteun die DF-meisiesrugbyspan!
Magriet de Klerk
Wanneer Magriet nie op die rugbyveld of die koorbankie is nie, is sy beslis besig om te verdwaal op Tafelberg.
