Die geskiedenis van ‘n vars asem

[Emily Byleveld]

Dink net: Hoe sou jou lewe sonder die gerief van ‘n tandeborsel wees? Dit is ‘n alledaagse objek wat ons gereeld as vanselfsprekend aanvaar. Geskiedkundiges glo dat die eerste tandeborsel tussen 3 500 en 3 000 voor Christus deur antieke Babiloniërs en Egiptenare gemaak is. Blykbaar het hulle ook die probleem van ‘n stink asem ervaar.

Die eerste tandeborsel was ‘n uitgerafelde takkie. Ander geskiedkundiges sê selfs dat die antieke Chinese in 1 600 voor Christus stokke van bome gebruik het om hul asems te verfris. In dieselfde era is voëlvere en diergebeentes ook deur antieke beskawings gebruik.

Die eerste massa geproduseerde tandeborsels is gemaak deur ‘n gevangene, William Addis. In Europa in 1770 het Addis bevind dat ‘n lap en roet jou ver kan bring met tandheelkundige higiëne. Nadat hy vrygelaat is, het hy begin om tandeborsels te produseer en was teen 1808 op sy doodsbed ‘n ryk man. Teen die 1840’s het China, Frankryk, Brittanje, Duitsland en ander lande tandeborsels in hul massas geproduseer en gebruik. Dupont de Nemours het die eerste nylon tandeborsel ontwikkel. Hierdie tandeborsel is Doctor West’s Miracle Toothbrush genoem.

Wat is tandeborsels sonder tandepasta? In 1824 het ‘n apteker, Peabody ook hierdie vraag gevra. Peabody is die eerste persoon wat seep by tandepasta gevoeg het. In die 1850’s is kryt deur John Harris bygevoeg. Tydens die 1870’s was Colgate die eerste instansie wat massa geproduseerde tandepasta aan die publiek verkoop het.

Tandpasta was wel voor tandeborsels ontdek. Teen 5 000 voor Christus het die antieke Egiptenare ‘n vorm van tandepasta gebruik om oor hul tande se smeer. Vroeë tandepastas het bestaan uit kryt en gebreekte skulpies, gemeng met verskillende olies. Sout en houtskool is die meeste gebruik voordat moderne tandepasta uitgedink is.

Ons kan dus bly wees dat moderne tandeborsels en tandepastas baie meer gerieflik is.


Emily Byleveld

Emily se gunstelingvakke is Engels en dramtiese kunste. Wanneer sy nie besig is met koor, debat, hokkie, orkes of tutor nie, skryf sy vir die Herout. Sy is baie lief vir lees en piesangbrood.