Die glansgeleentheid van die jaar

[Lianel Lotriet]

Op Donderdagaand, 19 September het ons ’n laaste geleentheid gehad om die matrieks van 2024 te vier – die matriekafskeid. Dit is vir die matrieks ’n hoogtepunt van hulle jaar.

Die middag is afgeskop met die aankoms by die skool. Daar het die matrieks met hul gekose motors en unieke style van uitrustings gepronk. Die legendariese rooitapyt het hulle verwelkom tot in die aktiwiteitsentrum, waar die ouers saam met hul kinders ’n glasie vonkelwyn kon geniet.

Daarna is die matrieks na Eensgezind, waar die onderwysers en kelners hulle met opgewondenheid ingewag het. Die venue is prentjiemooi met ’n lang balkon langs die saal waar jy kan uitkyk op die dam en wye landskap. Die venue is volgens die jaar se tema, Disco Garden, versier. Elke tafel is bedek met ‘n verskeidenheid kleure van blomme en kerse asook ’n disco-bal om die tema volledig uit te beeld.

Die aand is afgeskop met die hoofleiers se hartroerende toesprake. Daarna het die seniorraad hul dans opgevoer om die dansvloer finaal te open. ’n Rondte op die dansvloer het die matrieks vaal van die honger gelaat.

Die ete is opgedeel in die volgende: ’n voorgereg, hoofgereg en nagereg. Die voorgereg was drie kaas-en-uie-tertjies. Die hoofgereg was ‘n Sondagmiddag volmaag-ete van rooi pesto en feta, gevulde hoender-rollade, gepeperde beesvleis, patatrolletjies met kaneelsuiker, geroomde spinasie en feta sowel as ’n ertjie-en-spek-keiserslaai. Die nagereg het bestaan uit verskeie opsies, van gebakte kaaskoek met suurlemoen, kondensmelk-bolaag met sjokolade-brownie tot ‘n karamel- en-brownie-poeding.

Die leerders het die res van die aand weggedans en natuurlik ’n kaalvoet sokkie geniet. Voor die matrieks hulle oё kon uitveё, was die tyd om en hulle het stadig begin verdaag. Meeste van ons weet die matriekafskeid eindig egter nie hier nie … die matrieks het hul spesiale aand verder by ’n ander venue deurgebring.

Hierdie jaar se matriekafskeid was ’n reusesukses en daar is baie bedankings om te maak. Eerstens, moet ons die meesterbreine agter hierdie aand bedank, naamlik juffrou Van Reenen en juffrou Muller-Badenhorst. Ons weet dat hulle dae en aande spandeer het om hierdie glansgeleentheid so volmaak te beplan. Tweedens, dankie aan  Eengezind en hul personeel waarop ons elke jaar kan staatmaak. DF se matriekafskeid het werklik ’n nuwe hoogtepunt bereik.

Lianel Lotriet

Vir Lianel is die geliefdes in haar lewe baie belangrik. Jy sal haar gereeld op die netbalbaan vind. Sy is ‘n aanhanger van romantiese flieks en geniet dit om kitaar te speel.