Die KI-generasie: Gaan ChatGPT ons slimmer of luier maak?

[Don-Lin Hoon]

“Wie het jou huiswerk gedoen?”

Dit is die vraag wat ons onderwysers deesdae al hoe meer moet vra. Die antwoord is egter nie meer altyd ’n maat of ’n ouer nie, maar liewer kunsmatige intelligensie – beter bekend as KI. Iets wat vroeër soos wetenskapfiksie geklink het, is nou net ’n skakel weg op ’n selfoon of rekenaar.

Binne minder as vier jaar het KI-programme soos ChatGPT deel geword van miljoene leerders se daaglikse skoollewe. Vir sommige is dit ’n privaat tutor om werk te verduidelik. Vir ander is dit ’n makliker uitweg om take binne minute klaar te kry. In ’n wêreld waar tyd skaars is en druk baie is, lyk hierdie hulpmiddel vir leerders soos die perfekte oplossing. Die vraag is: Is ons besig om slimmer te word of leer ons om al hoe minder self te dink?

KI is glad nie meer iets van die toekoms nie, maar reeds deel van die klaskamer. Ons uitdaging is nou om te besluit hoe om dit verantwoordelik te gebruik. Die voordele is duidelik. KI kan moeilike begrippe eenvoudiger verduidelik, oefenvrae opstel en leerders help om vinniger te leer. Vir iemand wat sukkel met wiskunde en wetenskappe is KI soos ’n onderwyser wat enige tyd van die dag vir jou beskikbaar is. 

Maar daar is ook ‘n donker kant.

As ‘n rekenaar elke opstel skyf, elke antwoord gee en elke probleem oplos, wanneer leer ons om self krities te dink? ’n Leerling wat elke keer op KI staatmaak, oefen nie meer hoe om self probleme stap-vir-stap uit te werk of op te los nie. Met die verloop van tyd kan dit daarna  lei dat eenvoudige vaardighede soos leesbegrip, skryfvermoë en kritiese denkwyse swakker word. Nog ’n probleem is dat KI nie altyd reg is nie. Dit gee soms verkeerde feite, antwoorde en bronne wat glad nie bestaan nie.

Die waarheid is eenvoudig: KI gaan nie verdwyn nie. Soos sakrekenaars en die internet, jare gelede die wêreld verander het, gaan KI deel bly van hoe ons leer en werk. Die werklike vraag is nie of skole KI moet verban nie, maar of hulle leerders die vaardighede kan aanleer om dit ten alle tye eerlik, verantwoordelik en verstandig te gebruik? 

Ons is die eerste generasie wat grootword met ’n hulpmiddel wat binne sekondes amper elke vraag kan beantwoord. Miskien is die grootste toets van ons generasie nie hoe goed ons KI kan gebruik nie, maar of ons kan bewys dat die slimste brein in die klaskamer nog steeds die mens s’n sal bly.

Don-Lin Hoon

Don-Lin is in graad 8 en sy is mal oor skryf en lees . Sy hou van die natuur en is altyd reg vir ‘n nuwe avontuur.