Die koffiewinkel van jou drome

Caitlyne Kriel

Is jy ‘n geskiedenisliefhebber en koffie-entoesias? Geniet jy donker atmosfere met nog donkerder koffie om jou geselskap te hou? Dan is Truth vir jou!

Wat is Truth? Dit is ‘n Steampunk-geïnspireerde, 19de eeuse  koffiewinkel geleё in ‘n ou pakhuis in die middestad.

Die oomblik wat jy by Truth instap, word jy bekendgestel aan die reuk van ware koffie en wat is meer aanloklik as dit?

Truth Coffee Roasting spesialiseer in die kies en rooster van eksklusiewe koffie van regoor die wêreld. Hulle is vir twee jaar in ‘n ry deur The Daily Telegraph as die wêreld se beste koffiewinkel aangewys.

Nou wat beteken Steampunk en hoe word dit geïnkorporeer in Truth se manier van dinge doen? Steampunk is ‘n ontwerpstyl geïnspireer deur die Victoriaanse era se industrialisme. Die fokus is op stoom, masjienerie en outydse toerusting met fyn detail. Basies ratte, ratte en meer ratte.

Truth se atmosfeer en tema pas in by dié ontwerpstyl. Die kafee bevat leersitplekke, staaltafels met fyn patrone en kleiner tafels in die vorm van reusagtige ratte. Jy sit onder ‘n see van skitterende liggies terwyl jy ‘n heerlike koppie koffie geniet.

‘n Sewe-meter-lange tafel loop deur die middel van die pakhuis, gemaak van industriёle pype en die pakhuis se ou plafonpanele. Dit is hier waar die baristas hulle talent ten toon stel.

Hierdie baristas maak gebruik van verskillende roostertegnieke en koffiebone. Hulle gebruik net genoeg melk en moenie eens vra vir suiker nie.

Truth leer jou hoe om die hele ervaring te omhels. Hulle verduidelik dat as jy die hele outentieke koffie-avontuur ten volle wil waardeer, moet jy nie die koffie probeer verander deur ander goed by te sit nie.

Moet egter nie bekommerd wees nie. As jy nie een is vir koffie nie, is daar ‘n verskeidenheid van ander wonderlike drankies en versnaperings wat aangebied word. Hulle bied verskeie tee-opsies soos Truth Black Love wat ‘n vrugtetee is of Truth Spiced-Up Rooibos wat interessante speserye bevat.

Vir die soettande is daar altyd ook die keuse om al hul pasteie, koeke en ander gebakte lekkernye te probeer.

As jy nog nie genoeg gehad het van die Truth-ervaring nie, kan jy altyd ‘n stukkie van Truth huis toe vat deur hulle koffiepakkette te koop. Jy kan selfs leer hoe om hulle koffie te maak deur een van hulle barista-kursusse by te woon.

Vir almal wat hulle koffie-avontuur wil afskop, Truth wag vir jou. Gaan drink ‘n koppie en geniet die ervaring.