Die menslike intelligensie is ons ondergang

Bianca Richter

Met die verloop van tyd het tegnologiese verbeteringe gestyg te danke aan die menslike intelligensie, maar sal die tegnologiese intelligensie ons ooit verbysteek?

Die idee dat daar tegnologie is wat die menslike brein kan namaak, is indrukwekkend, maar wat is die uitwerking daarvan op die toekoms van werksgeleenthede, ons lewenswyse en die mensdom?

Kunsmatige intelligensie is in 1956 in ’n konferensie in Hanover, New Hampshire bekendgestel en staan bekend as AI (artificial intelligence). Die idee agter dit was dat net soos mense, kan masjiene slimmer raak deur ondervindings en deur take uit te voer. 

Daar is vier hooftipes kunsmatige intelligensies. Reaktiewe masjiene is een tipe wat ’n geheuebasis bou op gestoorde inligting en gebou is om te reageer op dinge wat oombliklik gebeur. Die ander tipe is masjiene met beperkte geheue wat hulle kennis gebruik om take uit te voer, maar minder kan onthou as ander tipes kunsmatige intelligensies. Daar is ook masjiene wat mense kan aanvoel en reageer op menslike emosies. Die laaste tipe intelligensie is self-bewuste masjiene wat die emosies van ander kan aanvoel asook hulle eie gevoelens het en hulle vlak van intelligensie is net so hoog soos die mens s’n.

Die groot vraag oor hoekom kunsmatige intelligensie so ’n groot bedreiging is, lê by die lys van aspekte wat dit kan verrig wat mense nie kan nie. Die lys sluit die vermoë in om tonne data gelyktydig te prosesseer binne sekondes, waar mense maande sal neem om dit te doen. Nog ’n voordeel daarvan is dat dit geen kostes behels nie, anders as mense wat ’n werklike inkomste moet ontvang vir hulle werk. Dit kan veroorsaak dat die werkloosheidsyfers heelwat vermeerder aangesien besighede meer wins kan maak deur AIte gebruik. Funksies wat op ’n tyd kreatiwiteit benodig het, soos musiek, kuns en literatuur, het nie meer nodig om deur mense ontwerp te word nie, want kunsmatige intelligensie genereer sonder enige moeite skilderye, lirieke vir musiek en gedigte van enige onderwerp volgens wat dit op die internet kry. 

Alhoewel baie mense vrees dat kunsmatige intelligensie die mens se werk sal oorneem, is daar wel redes hoekom dit nie sal kan plaasvind nie. Mense se briljante vermoë om emosionele brûe met mekaar te vorm en die hoeveelheid emosionele intelligensie wat mense het, kan nie deur masjiene met kunsmatige intelligensie besit word nie. Kunsmatige intelligensie werk wel op data wat ontvang word en daarom kan dit slegs reeds bestaande ideas en konsepte gebruik, maar mense kan enige tyd nuwe idees formuleer.

Daar kan wel nie bepaal word of AI oor tyd sal verbeter tot die punt waar masjiene wel menslike verbindings kan vorm nie, maar op die oomblik lyk dit of ons nog veilig is.