Die Netbal Wêreldbeker is om die draai

Mieke Verster

Suid-Afrika het hierdie jaar die voorreg om die 60ste Netbal Wêreldbeker aan te bied, reg hier in Kaapstad.

Die Wêreldbeker-toernooi word elke vier jaar, reg oor die wêreld gespeel. Daar is 16 spanne wat deelneem. In die 60 jaar wat hierdie toernooi plaasvind, is Nieu-Seeland en Australië die enigste kampioene. Hierdie twee spanne is verseker Suid-Afrika se grootste kompetisie.

Suid-Afrika se span, die SPAR Proteas, oefen al maande lank vir hierdie toernooi en voel geëerd om in hulle eie land te speel. Hulle het ook ‘n voorsmakie gekry van hoe sterk Engeland, Nieu-Seeland en Australië tans is, gedurende die afgelope Quad Series wat in Januarie plaasgevind het. Die Proteas het goed gevaar in die toernooi, maar het definitief nog baie werk om te doen as hulle die Wêreldbeker wil wen.

Die SPAR Proteas bestaan uit 16 meisies wat oral uit Suid-Afrika kom. Sommiges speel ook vir klubs in Engeland en Australië. Ons kaptein, Bongiwe Msomi, speel al vir meer as 10 jaar vir die Proteas en was in 2016 as kaptein van die span verkies. Sy word deur haar spanmaats as ‘n fantastiese leier bestempel. Die vriendskappe tussen die meisies is duidelik, selfs van die baan af.

Alhoewel die SPAR Proteas slegs vyfde in die wêreld is, het hulle bietjie van ‘n voodeel teenoor die ander spanne. Om in jou eie land te speel, kan jou baie motiveer om beter en harder te werk en die Suid-Afrikaanse gees tydens ‘n wedstryd is onwerklik. Dit is ook ‘n baie goeie manier om netbal as ‘n sport meer gewild te maak onder meisies, asook onder seuns.

Die Netbal Wêreldbeker het die potensiaal om Suid-Afrika ekonomies te bevoordeel deur toerisme. Ons kan verseker die aanname maak dat hierdie toernooi ‘n blink oomblik gaan wees vir Suid-Afrika in 2023.

Kom wees deel van die samehorigheid en koop jou kaartjies nou op die NWC2023 se webtuiste.