Die perfekte pouse-sjokoladekoekies

[Annelize Jonck]

Het jy al ooit tydens pouse met ’n leë kosblik gesit en gewens jy het iets ekstra lekker gehad om te eet? Wel, daardie probleem behoort nou iets van die verlede te wees. Hierdie sjokoladekoekies is bros aan die buitekant, sag in die middel en propvol sjokoladesplinters. Boonop is dit maklik genoeg om die aand voor die tyd te bak – sodat jy die volgende oggend met ’n bietjie meer entoesiasme skool toe kan kom.

Of jy nou iets soets vir pouse soek, jou vriende wil bederf of bloot ’n verskoning nodig het om die oond aan te skakel, is hierdie resep die moeite werd om te probeer.

Bestanddele:

  • 125 g gesmelte botter, 
  • ½ koppie witsuiker
  • ½ koppie bruinsuiker
  • 1 eier
  • 1 teelepel vanieljegeursel
  • 1½ koppies koekmeel
  • ½ teelepel koeksoda
  • ’n knippie sout
  • 1 koppie sjokoladesplinters

Instruksies

1. Voorverhit die oond.
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Dit maak die opruiming ná die bakproses baie makliker.

2. Meng die nat bestanddele.
Meng die gesmelte botter, witsuiker en bruinsuiker in ’n groot mengbak. Voeg die eier en vanieljegeursel by en meng dit alles baie goed.

3. Voeg die droë bestanddele by.
Sif die koekmeel, koeksoda en sout by die bottermengsel. Meng die mengsel liggies totdat ’n sagte koekiedeeg vorm. Moenie die deeg te veel meng nie – dit kan die koekies hard maak.

4. Nou vir die beste deel.
Vou die sjokoladesplinters by die deeg in. Probeer om nie te veel te eet nie. Die koekies moet darem nog die bakplaat bereik!

5. Bak dit.
Skep lepels vol deeg op die bakplaat en laat genoeg spasie tussen elke koekie. Bak vir ongeveer 10 tot 12 minute of totdat die rande van die koekies goudbruin is. Die middel mag nog effens sag lyk – dit sal ferm word soos die koekies afkoel.

6. Laat afkoel.
Laat die koekies ’n paar minute op die bakplaat afkoel voordat jy hulle na ’n draadrak skuif. Daarna is hulle gereed vir die belangrikste toets: pouse.

Finale beoordeling

Die perfekte pouse-sjokoladekoekie moet drie dinge wees: maklik om te maak, maklik om met ’n vriend te deel en lekker om te eet! Hierdie resep kry dit alles reg. Die kombinasie van wit- en bruinsuiker gee die koekies ’n soet geur, terwyl die gesmelte sjokolade in elke hap sorg dat  daardie ekstra bederf nie verlore gaan nie.

My raad? Maak ’n dubbele beslag. Een vir jou kosblik en een vir die res van die huis – want as jy net een baksel bak, is daar ’n goeie kans dat dit nooit by pouse gaan uitkom nie.

Of jy nou ’n meesterbakker is of iemand wat gewoonlik net die deeg eet,  verdien hierdie koekies ’n plek in elke leerder se kosblik.

Annelize Jonck

Annelize Jonck is ‘n graad 10-leerder met ’n groot liefde vir kosmaak en kreatiwiteit in die kombuis. Sy geniet dit om nuwe resepte te probeer en haar passie met ander te deel.