Die projek wat jou lewe sal verander: Projek-50

Emily Byleveld

‘n Projek wat bekend geraak het op sosiale media kan jou lewe totaal verander. In November 2022 het hierdie projek roem verwerf, nadat dit ontdek is op die webtuiste State of Mind. Projek-50 is ‘n welstandsprojek wat ontwerp is vir mense wat hulle volle potensiaal wil bereik. Die beweging behels die bou van nuwe en gesonde roetines oor die tydperk van 50 dae.

Navorsers het studies gedoen oor verskeie mense wat werklik suksesvol in hulle onderskeie bedrywe is. Daar is gevind dat hulle ‘n paar aspekte in gemeen het. Dit is gebruik om projek-50 te skep. Die sewe belangrikste eienskappe wat hierdie mense gedeel het, is vasgestel as reëls vir hierdie spesifieke projek.

Deelnemers aan hierdie projek het gevind dat die volgende aspekte in hulle lewens verbeter: verbeterde geestesgesondheid, verhoogde produktiwiteit, beter slaap, die skep van gesonde gewoontes en laer stresvlakke.

Voordat jy begin, is dit belangrik om vas te stel watter area in jou lewe jy wil verbeter en ook om ‘n doel te skep. Nou volg jy slegs die reëls!

Reël 1: Word wakker voor 08:00.

Ja, ons almal moet voor hierdie tyd wakker word vir skool, maar jy moet dit selfs op naweke en vakansies toepas. Op skooldae kan jy wakker word om 05:00. Dit sluit in dat jy ses plus ure se slaap moet inkry. Die langste wat jy moet slaap, is nege ure. Anders slaap jy te veel.

Reël 2: Volg ‘n oggend-roetine.

Die rede waarom jy so vroeg moet wakker word, is omdat jy ‘n een uur lange oggend-roetine moet hê. Tydens hierdie een uur moet jy, sonder enige afleidings, produktief wees. Jy kan oefeninge doen en gaan stort tydens hierdie rukkie, ‘n gesonde ontbyt maak en aantekeninge in jou joernaal skryf. Jy kan selfs daardie uur gebruik om tyd aan godsdiens te spandeer. Die doel is om jou dag produktief en positief te begin.

Reël 3: Oefen elke dag vir een uur.

In hierdie uur kan jy gaan draf, gym of joga doen. Wat ook al jou liggaam laat beweeg, moet jy aan deelneem vir een uur elke dag.

Reël 4: Lees 10 bladsye ‘n dag.

Dit kan ‘n storieboek, jou skoolhandboek, ‘n selfhelpboek of jou bybel wees. Dit maak nie saak wat jy lees nie, solank jy elke dag tien bladsye daarvan lees.

Reël 5: Wy een uur aan ‘n nuwe vaardigheid.

Wil jy nog altyd geleer het hoe om te brei? Of leer hoe om te bak? Spandeer elke dag een uur aan selfverryking en na 50 dae het jy n nuwe vaardigheid aangeleer.

Reël 6: Volg ‘n gesonde dieet.

Dit is nie vir almal maklik om hul hele dieet te verander nie, maar hierdie reël sê dat jy bewus moet raak van die kos wat jy eet. Deel van ‘n gesonde dieet is om gereeld water te drink en dit is iets wat ons almal kan doen.

Reël 7: Volg jou vordering in ‘n joernaal.

Jy kan kreatief wees met hierdie joernaal. Die doel is om jou bewus te maak en te laat dink oor jou daaglikse vordering. Skryf jou gevoelens en gedagtes neer. Jy kan selfs net jou vordering inskryf in die vorm van grafieke of tabelle. Wees ten volle jouself.

Jy dink miskien dat jy nie tyd het vir al hierdie reëls nie. Miskien het jy te veel skoolwerk of te veel buitemuurse aktiwiteite. Ek sê vir jou dat ‘n mens altyd tyd het vir dit wat jy as belangrik ag. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Prioritiseer jouself en kyk hoe projek-50 jou lewe kan verander.