Die Tsitsikamma-staproete

Lohen Chamberlain

Jy hoor die gedruis van ‘n waterval. Terwyl jy verder stap, word die klank al hoe duideliker. Die donker heuningkleurige water glinster terwyl dit oor die klippe spoel. Die bome se skaduwees en die natuurlike, welige groen van die plante omring die poel. Elke nou en dan kan jy ‘n voël hoor fluit. Deur die reuk van reën en modder kan jy die ondertoon van koffie wat iemand op ‘n klein stofie maak, ruik.

Haal diep asem, ruik die geure. Maak jou oë toe, voel die koelte van die bome wat bo-oor jou uittoring. Luister na die gedruis van die water. Dit is die Tsitsikamma-staproete.

Die staproete duur ses dae en is ongeveer 64 kilometer lank.

‘n Kort staptog van 3,5 km vanaf Nature Valley Rest Camp neem jou na die eerste oornagplek, die Kalander-hut, skaars 100 m van die Nature’s Valley-strand.

Op die tweede dag begin stappers om tot bo-op die platorand te klim. Die grootste deel van die dag se staptog sal jou egter deur die inheemse Afromontane-woud neem terwyl jy die binneland instap tot by die Tsitsikamma-berge. Jy kom ook trapwatervalle tee waar ‘n ruskans en ‘n verfrissende swem ‘n moet is voordat jy die laaste stuk na die hut aandurf. Die Bloukrans-hut is op die rand van ‘n krans geleë en bied ‘n ongelooflike uitsig oor die kloof en rotspoele sowel as Piek Formosa en die Tsitsikamma-berge in die noorde.

Die volgende dag stap ‘n mens diep die Tsitsikamma-berge en woud in. Die roete neem jou op ‘n wandelpad deur ‘n verskeidenheid fynbos en pragtige kolle inheemse woud terwyl jy die berge begin binnetree. Die kruising van die Bloukransrivier by Waterwitelsgat is nog ‘n geleentheid om te swem. Kort voor jy die Keurbos-hut bereik, is daar rotspoele wat soos natuurlike jacuzzi’s by die Twin-baddens lyk. Die hut is in die natter Keurbos-woud geleë.

Die derde dag se staptog gaan deur baie verskillende areas en het verskeie rivierkruisings. Na ‘n geleidelike afdraand van ongeveer 1,5 km vanaf Keurbos-hut bereik jy die Lotteringrivier. Sodra jy dit oorgesteek het, word groot kolle van die ongerepte inheemse woud in afgeleë bergstreke sigbaar. Na die laaste afdraande na die hut, sal jy twee keer die Kleinbosrivier oorsteek voordat jy die Heuningbos-hut bereik. ‘n Baie aangename swembad lê binne stapafstand.

Dag vier is die langste roete en stappers moet twee berg-nekke oorkruis op die roete na Sleepkloof-hut. Die meerdereheid van die dag word spandeer om deur ongerepte bergfynbos waar baie interessante spesies voorkom, te stap. Die kruising van die Wittekliprivier dui die dag se halfpadpunt aan en die tweede berg-nek se klim begin kort daarna. Die uitsig vanaf die kruin van Nademaalsnek is ‘n groot beloning. Sleepkloof-hut skuil teen die hange van ‘n dig beboste kloof waar hout uitgesleep is tydens die houtkapper-era. Die hut het ‘n ongelooflike uitsig oor die Tsitsikamma-berge wat in die verte skuil.

Na die Stormsrivierbrug is daar ‘n kort staptog van 3,4 km. ‘n Alternatiewe roete kan deur Storms River Village via die Tsitsikamma Nasionale Park gebruik word. Die roete loop langs die Bosvaringpad af en kruis die N2-hoofweg tot in Plaatbos op die Skuinsbospad-roete. Hierdie alternatiewe roete is drie kilometer langer.

Voordat jy die staptog begin, moet jy eers jou sakke pak. Die volgende is ‘n algemene lysie van benodighede:

  • water
  • ‘n noodhulpstel
  • komberse
  • reënklere
  • ‘n rugsak

Ek sal egter ‘n bietjie op daardie lys uitbrei en stel die volgende voor:

  • ‘n slaapsak
  • ‘n klein gasstofie en ketel
  • koffie
  • Two minute noodles (Glo my, jy gaan jaloers wees as iemand anders dit gebring het en jy het nie.)
  • ‘n koplig
  • ‘n leesboek
  • blits en houtskool
  • waterskoene vir waterkruisings
  • kaarte

Nou is jy amper gereed om die staptoer van jou drome te begin, maar hier is ‘n laaste paar wenke om jou voor te berei.

  • MOENIE. KOS. BUITE. DIE. SAK. LOS. NIE. Die bobbejane sal dit steel.
  • Swem waar en wanneer jy kan, want dit is die moeite werd.
  • Moenie tydens die Julie-vakansie gaan stap nie. Die riviere is dan vol en byna onmoontlik om te kruis.
  • Wanneer jy by die waterval is, kyk of die water diep genoeg is. As dit is, kan jy van die rotse af spring.
  • Moenie te vinnig stap nie. Daar is oorgenoeg tyd.
  • Slack-packing. As jy dink dat jy nie alles kan dra nie, kan jy slack-packing probeer. Jy betaal ekstra en dan vervoer hulle jou goed vir jou, na en van die hutte. Dit kan goed wees soos kos of net klere wat jy nie saam wil dra nie.
  • As jy rus, maak koffie. Dit is vreeslik lekker en gee jou tyd om te gesels.
  • As jou skoene nat raak, laat dit droog word by die vuur.
  • Bespreek vroeg. Jy moet omtrent ‘n jaar voor die tyd bespreek.
  • Geniet dit.

Waarvoor wag jy? Bespreek, stap en geniet die wonders van die Tsitsikamma-staproete. Sien jou daar.