Die vraag van die 21ste eeu: tablet of boek?

[Erica Chen]

‘n Tablet of papier? Dit is die vraag. Tegnologie het so ontwikkel dat die tradisionele manier van notas neem nou op ‘n skerm gedoen kan word.

Dit beteken dat die manier waarop jy nou leer en notas neem, afhang van die keuses wat jy maak en wat jy verkies. Maar hoe moet jy ‘n keuse maak wanneer jy slegs een kant van die muntstuk ken?

Hier is die voordele en nadele van ‘n tablet, sodat jy die beste keuse vir jouself kan maak.

Die voordele van ‘n tablet

  1. Tablette is ligter as die duisende skryfboeke wat jy elke dag skool toe moet dra, aangesien ‘n tablet al jou skryfboeke kan vervang, sowel as sommige handboeke wat aanlyn gevind kan word. Dit verminder ook jou kanse om ‘n boek by die huis te vergeet. Die gewig word letterlik en figuurlik van jou skouers gelig.
  2. Aangesien digitale notas die nuwe mode is, is daar verskillende toepassings wat jy kan gebruik om notas te neem en dit maak organisasie en hersiening makliker. Daar is ‘n toep vir enigiets wat jy benodig en jy sal dus meer effektiewe en doeltreffende maniere vind om notas te neem.
  3. Digitale alternatiewe is beter vir die omgewing. Jy benodig minder boeke en papiere, want jy kan omtrent alles op jou tablet doen. Jy kan ook al jou take en huiswerk op jou tablet stoor en organiseer (buite die bereik van jou hond of kat se pote en tande).

Nadele van ‘n tablet

  1. Die algemeenste probleem van die 21ste eeu: Tablette en slimfone is aandag-afleibare toestelle. Dit kan lei tot ondoeltreffendheid, maar dit kan jou ook leer om streng met jouself te wees en dissipline aan te leer.
  2. Dit kan veroorsaak dat jy te afhanklik raak van tegnologie, aangesien al jou notas en studies op ‘n tablet is. Dit kan tot baie probleme lei wanneer dit beurtkrag is en jy nie jou tablet kan laai nie of as jy jou tablet verloor. Om seker te maak dat jy nie al jou werk verloor nie, kan jy dit in die Cloud of soortgelyke platforms stoor.
  3. Dit is duur. Nie almal kan ‘n tablet koop nie en baie toepassings het addisionele kostes en is nie beskikbaar vir almal nie. Indien jou tablet breek, kan dit baie duur wees om te herstel. Alhoewel dit problematies kan wees, is die handboekkostes vir universiteit ook baie duur, so ‘n tablet sal dus in die langtermyn meer koste-effketief wees.
  4. Aangesien jy baie huiswerk en leerwerk op ‘n skerm moet doen, kan dit lei tot gesondheidsprobleme. Te veel skermtyd lei tot swak sig en stremming op jou oë. Jy moet dus oplet hoeveel uur jy met ‘n skerm sit en hoe om seker te maak jy beskadig nie jou oë nie. Om jou toestelle na Dark mode te verander, is ‘n goeie begin.

Alhoewel ‘n tablet of ‘n iPad nie verpligtend is nie, beskik dit oor baie funksies wat kan help om jou alledaagse produktiwiteit te verhoog en is dus iets om oor na te dink. Indien jy dit kan bekostig, sal ek dit sterk aanbeveel.

Drie DF-leerders is ondervra en hulle menings was soos volg:

Met die gebruik van ‘n tablet het hulle bevind dat dit makliker is om te werk en dat alles netjieser en meer georganiseerd is. Zac van Wyngaardt in graad 11 het bevind dat hy nou op enige plek met sy tablet kan werk en dat dit sy sak baie ligter gemaak het.

‘n Anonieme persoon het gesê dat hulle dit geniet om op hulle iPad te werk, want hulle kan PDF‘s op Goodnotes laai, wat help met hulle organisering. Hulle hou meer daarvan om op die tablet te werk, maar sal so nou en dan op papier skryf. ‘n Ander rede hoekom hulle van die iPad hou, is omdat hulle daarop kan lees, flieks kan kyk en skoolwerk doen.

Imke Pienaar in graad 11 het ook gevind dat ‘n iPad haar help met organisering en dit verminder die kanse dat sy haar boeke of huiswerk verloor. Imke is ook ‘n spotprentkunstenaar en illustreerder vir die Herout en sy sê dat die iPad haar baie gehelp het met haar kuns aangesien sy baie meer kan uitvee sonder om merke op die tekening te los. Sy vind dit egter moeilik om gewoond te raak om op die iPad te skryf, aangesien die gladde skerm baie van papier verskil. Sy is dus meer geneig om op papier te werk, tensy sy vinnige notas moet neerskryf.

Al drie leerders moedig dus mense aan om ‘n tablet te kry indien jy dit kan bekostig, aangesien ‘n tablet hulle lewens makliker gemaak het. Imke se raad is indien jy die tablet of iPad vir meer as een funksie gaan gebruik, sal dit definitief ‘n goeie verskil maak, maar indien dit net vir skoolwerk is, is ‘n duur tablet nie so belangrik nie. Anoniem beveel dit wel aan, veral vir universiteit, want jy kan jou boeke en data verloor en handboeke is duur. 

[Foto: Yana Mans]


Erica Chen

Erica se gunstelingvakke is gewoonlik die vakke waarin sy sleg vaar of sy kan net nie die taal praat nie. Twee interessante feite oor Erica is dat sy Taiwanees is en dat haar hondjie, Teddy, die oulikste is.