Direk Griekeland toe met Mamma Mia!
Mignon Roux
Mamma Mia! word beskou as een van die bekendste romantiese musiekblyspele en hierdie hoë verwagtinge is beslis bereik.
Die musiekblyspel het van 7 Maart tot 7 April by Artscape plaasgevind en as jy ‘n kaartjie kon kry, was jy baie gelukkig, want dit is binne ‘n oogwink uitverkoop.
Die regisseur, Janice Honeyman hou Suid-Afrika se naam hoog met ‘n volledige Suid-Afrikaanse rolverdeling asook Gina Shmukler, Kate Normington en Ilse Klink wat na veertien jaar terugkeer na hulle rolle as Donna en die Dynamos.
Vanaf die eerste vertoning in 1999, het Mamma Mia! nog nooit misluk nie en dit bly die moeite werd om te kyk. In Mamma Mia! word die storie vertel van Sophie, ‘n amper-bruid wat desperaat is om haar biologiese pa te vind, maar op die Griekse eiland waar sy bly, is niks maklik nie en dit veroorsaak groot kommunikasieprobleme.
Mamma Mia! laat die gehoor met verskillende emosies, veral met behulp van die uitstekende klankbaan van almal se gunsteling-ABBA-liedjies. Alhoewel die gehoor teen die einde van die opvoering op hulle stoele staan en dans, is daar ook ‘n vreeslike hartseer vertolking van “Slipping Through My Fingers” wat die hele gehoor in trane gehad het. Dit is baie skaars dat ‘n toneelstuk goeie sangers het wat ook hul rolle perfek kan vertolk en Mamma Mia! het beslis hierdie balans gevind.
Selfs al is daar belaglike mense op hierdie aarde wat nie van Mamma Mia! hou nie, het die towerkuns van die Artscape almal lief vir musiekblyspele gemaak. As dít jou nie oortuig om dadelik ‘n vakansie Griekeland toe te bespreek nie, dan weet ek nie wat sal nie! Nadat ‘n mens na hierdie magiese blyspel gekyk en geluister het, kan jy nie help om dankie te sê vir die musiek nie.
Mignon Roux
Mignon is baie lief vir haar twee katte en kyk graag Formule 1 op Sondae. Sy hou ongelukkig baie van Ferrari en spandeer die res van haar week om ‘n beter stokperdjie te soek.