[Etienne van der Merwe]
Dit is ‘n tradisie in my gesin om gereeld die Krugerwildtuin te besoek. My pa is betower deur hierdie asemrowende park en hy is vasberade om hierdie passie met die res van sy gesin te deel.
Die Krugerwildtuin is ‘n reusewildreservaat in Gauteng en is omtrent 20 000 vierkante kilometer groot. Nie net is dit groter as ‘n paar lande nie, maar dit het ongelooflike biodiversiteit. Suid-Afrika besit meer as 90% van die wêreld se renosters en die wildtuin het 12 000 van die asemrowende diere. Dit is ook die oudste wildreservaat in Suid-Afrika en is in 1898 gestig.
Hoe meer gereeld ons die park besoek, hoe meer laat dit jou toe om die klein aspekte van die wildtuin te waardeer. Aanvanklik wou ons net die leeus, olifante en kameelperde sien, maar ons het nou geleer om die vroegoggend vrede lief te hê, die kleurvolle voëls te bewonder en om by elke piekniekplek uit te klim en ons bene te rek. Oor die talle kere wat ons al na die wildtuin toe gegaan het, het ons leeus, olifante, kameelperde, volstruise, blouwildebeeste, luiperds, renosters, krokodille, seekoeie en vele meer gesien.
Dit beteken dat ons nog nooit tydens ‘n vorige vakansie ‘n jagluiperd gesien het nie, maar hierdie keer het iets onverwags gebeur. Ons het twee luiperds langs mekaar gesien! Hulle was besig om met mekaar te speel en het selfs rondom ons kar geloop. Later in die vakansie het ons nog vyf luiperds gesien en net toe ons wou opgee, het ons ook ‘n paar jagluiperds gesien. Ons het letterlik vir ure stilgestaan om die beste foto’s te kry.
Twee aande later was ons by die wildtuin se enigste Mug&Bean met ‘n pragtige stoep en uitsig oor die rivier. As jy gelukkig is, kan jy ‘n hiëna of seekoei gewaar. Terwyl ons daar ons koek en tee geniet het, het ‘n Fransman geskree: “Hippo! Hippo!”
Mense het begin stry of hy ‘n seekoei of jagluiperd sien. Ons het gedink dis net nog ‘n seekoei, maar ons was heeltemal verkeerd. Minder as 50 m weg was ‘n jagluiperd besig om vis te vang by die rivier!
Ons was op pad uit, besig om ons laaste wense uit te spreek, toe ‘n renoster oor die pad gewandel kom. Dit was net ‘n vinnige verskyning, maar ek dink dit is my gunstelingherinnering. Nie net is renosters skaars nie, maar dit het my so onkant gevang dat ek vir die eerste keer in ‘n lang ruk met die bewondering van ‘n wildtuin-nuweling daarna gekyk het.
Die irriterendste aspek van die wildtuin is die muskiete. Dit is nie so erg tydens die winter nie, maar as jy die wildtuin tydens die somer besoek, beter jy goed voorbereid wees. Daar is tonne insekte.
In terme van raad: Bespreek vroegtydig. Raad van ‘n ervare wildtuinbesoeker, is om plek in die kampe te bespreek selfs al bly jy nie daar nie. Jy kan altyd die besprekings verander, maar jy hoef darem nie in die middel van jou verblyf êrens anders heen te gaan omdat jy ‘n dagbespreking gemis het nie.
Die Krugerwildtuin is ‘n plek vol misterie en avontuur. Jy kan dae lank rondry, pragtige uitsigte aanskou en geheime piekniekplekke vind. Daar is rustigheid en beeldskone staproetes in die wildtuin te vinde.
As jy wonder waar om jou vakansie deur te bring, moet die Krugerwildtuin op jou lys wees. Dit is ‘n kosbare plek en is byna altyd die hoogtepunt van my jaar.
Etienne van der Merwe
Hierdie skrywer is soos ‘n menslike Swiss Army-mes, hy bons tussen programmering, lees, eerstespan krieket, wiskunde, ekonomie en debat asof dit geen probleem is nie.