[Anika Burger]
Ons ken almal die herverfilming van Disney se ou suksesvolle classics. Hierdie live action remakes kry baie negatiewe kritiek en die meerderheid van Disney-aanhangers maak dit baie duidelik dat hulle nie daarvan hou nie. Hoe maak die maatskappy dan geld daaruit en hoekom is daar so baie van hierdie films?
In 2010 is Tim Burton se weergawe van Alice in Wonderland vrygestel en dit het die begin van ‘n nuwe genre van Disney-films ingelei, waar hulle animasiestories oordoen met nuwe akteurs en modern tegnologie. Vir die laaste paar jaar gebruik Disney hierdie strategie en hulle is nog steeds besig daarmee.
Al is Disney een van die mees suksesvolle besighede in die filmbedryf is daar altyd mense wat hulle kritiseer. Oor die algemeen stem die publiek saam dat hulle remakes nie so goed soos die oorspronklike animasiefilms is nie. Baie mense glo dit word gemaak omdat Disney nie meer aan oorspronklike filmidees kan dink nie of omdat hulle net nie meer so kreatief is soos wat hulle altyd was nie. Ander dink dis onnodig dat hulle suksesvolle films kies om oor te doen in plaas van films wat geflop het en daarby sal baat om oorgedoen te word.
Disney se redenasie is waarskynlik dat daar ‘n groot kans sal wees dat die remakes meer suksesvol sal wees as ‘n splinternuwe idee, want hierdie films is reeds bekend en die meeste mense het klaar ‘n konneksie met die storie en karakters omdat hulle dit gekyk het toe hulle jonger was. Die Disney-maatskappy weet dat al hou mense nie noodwendig van die remakes nie, sal hulle dit waarskynlik steeds kyk, want dit gaan hulle herinner aan hulle kinderjare. Om die remakes te maak, is ‘n veilige finansiële opsie.
Al is Disney se live action remakes kontroversieel, is dit steeds ‘n goeie herinnering aan van hulle beste films in die verlede wat vandag nog steeds vir baie mense geluk bring.
Anika Burger
Anika geniet dit om tyd saam met vriende en familie te spandeer. By die skool is haar gunstelingvakke Engels, Duits en ontwerp. In haar vryetyd is sy waarskynlik besig om te lees, musiek te luister of flieks te kyk.