Dit kos ‘n arm en ‘n been … of dalk net ‘n vinger

Daniël du Plessis

Hierdie jaar het Parys die voorreg gehad om die Olimpiese Spele aan te bied en hier het baie praatjies en interessante stories ontstaan. 

Die blykbaar kontroversiële openingseremonie en Mondo Duplantis wat weereens ‘n paalspringwêreldrekord gebreek het, is net twee voorbeelde van stories wat by hierdie jaar se Spele gebeur het . Daar is egter een storie wat nie oorvertel is nie en dit is die storie van Matthew Dawson. Dié 30-jarige Australiër is op 27 April 1997  in Killarney Vale gebore en speel tans as ‘n verdediger vir Australië se nasionale hokkiespan, die Kookaburras. Matthew moes egter slegs twee weke voor die begin van die Olimpiese Spele, ‘n klein gedeelte van sy regterringvinger laat afsit na ‘n ongeluk tydens ‘n oefensessie.

Matthew het tydens ‘n oefening ‘n slegte hou op sy vinger ontvang wat moontlik sy deelname aan die Spele kon belemmer. Hy vertel op die potgooi, Parle Vouz Hockey dat een van die opponente se houe hierdie fratsongeluk veroorsaak het en dat ‘n groot deel van sy vinger afgeslaan is. Matthew vertel verder in ‘n onderhoud met CNN-sport dat dit ‘n groot besering aan sy vinger was en dat hy besef het hoe ernstig dit was, toe sy mede-spelers niks wou sê het nie. 

Matthew het vinnig na die ongeluk ‘n plastiese chirurg gaan besoek, waar hy gehoor het dat sy vinger herstel kon word. Die herstelproses sou egter vier tot ses maande duur en keer dat Matthew kon deelneem aan die Olimpiese Spele. Die tweede opsie was om die deel van die vinger wat skade opgedoen het, te amputeer wat hom sou toelaat om deel te neem aan die Olimpiese Spele. Na ‘n kort oproep aan sy vrou, waarin sy hom gewaarsku het om nie ‘n oorhaastige besluit te neem nie, het Matthew voortgegaan om ‘n gedeelte van sy vinger af te sit. In ‘n onderhoud verduidelik hy sy redenasie omtrent die besluit. As die bo-punt van sy vinger die prys was om te betaal, sou hy dit met graagte doen. Hy sê verder dat as hulle die goud gewen het, was dit regtig nie ‘n groot prys om te betaal nie. 

Uiteindelik het Matthew een gedeelte van sy regterringvinger verloor, maar Australië het ongelukkig met  2-0 teen Nederland verloor in een van die kwarteindrondtes. Matthew het tydens die besluitnemingsproses om die vinger te amputeer ook verduidelik dat hy gemaklik sal kan lewe met ‘n bietjie minder vinger op sy hand.

Daniël du Plessis

Daniël is ‘n entoesiastiese sportman wat homself besig hou met 4 sportsoorte deur die jaar. Hy geniet wel rustiger aktiwiteite soos brei en klavierspeel vir ‘n bietjie balans in die lewe en sit ook baie maklik voor die televisie om ‘n lekker gruwelfliek te kyk.