Dubai FIX Knafeh-sjokolade: ‘n indiepte resep

[Jean-Mari Vos]

As jy enigsins gedurende die Junie-skoolvakansie jou tyd gemors het deur TikTok-video’s vir jou beste pelle aan te stuur, het jy al tien teen een die verskeie video’s van mense wat die peperduur Dubai FIX-sjokolade uittoets, gesien. Daar is ‘n rede hoekom elke liewe persoon en hul ma skarrel om die bestanddele vir hierdie produk te koop.

FIX Dessert Chocolatier is ‘n populêre sjokoladekafee in die hartjie van Dubai en is verantwoordelik vir een van die gesogste sjokolades wêreldwyd. Volgens FIX se Instagramblad word hierdie sjokolades daagliks uitverkoop. Hulle is bekend vir hulle ryk sjokolades en hulle ryker pryse.

Alhoewel hierdie sjokolade teen ‘n skerp prys van R332.15 verkoop word, is daar steeds duisende mense wat sommer net so hierdie prys sal betaal. Vir die meeste mense is hierdie prys belaglik en hulle sal verkies om dit eerder self te maak as om op ‘n vliegtuig na Dubai te klim, net vir ‘n sjokolade. 

Daar is twee voordele verbonde daaraan om hierdie sjokolade self te maak. Eerstens spaar jy geld. Al die bestanddele wat nodig is vir hierdie produk kom by minder as R320 uit. Tweedens, jy kry meer porsies deur al die bestanddele te gebruik as wat jy sal kry wanneer jy die FIX-sjokolade self gaan koop. Jy kan minstens twee groot sjokolades uit al die bestanddele kry.

Nou, vir die eintlike resep.

Die maak van hierdie sjokolade gaan jou ongeveer 40 tot 50 minute besig hou. Maak ook seker dat jy geduld het voordat jy met hierdie resep begin, want jy gaan nogal ‘n tydjie moet wag vir jou sjokolade in die vrieskas.

Wat gaan jy benodig om hierdie resep te maak?

  • 15 milliliter olyfolie en botter
  • ¼ koppie (62,5 ml) opgesnyde kataifi. As jy wil hê dat jou pistachiovulsel ‘n bietjie meer krakerig moet wees, kan jy omtrent nog ‘n kwart koppie van die opgesnyde kataifi byvoeg.
  • 85 gram pistachiobotter
  • 32,75 milliliter tahini. As jy wil hê dat jou pistachiovulsel `n bietjie dikker moet wees, kan jy ‘n bietjie minder tahini byvoeg.
  • 50 gram melksjokolade
  • 50 gram donkersjokolade
  • Diep sjokoladevorms (koop dieselfde aantal vorms vir elke sjokolade wat jy wil maak)
  • 25 gram witsjokolade (opsioneel),
  •  ‘n medium grootte pan of kastrol

Hoe gaan jy hierdie sjokolade maak? 

  1. As jy die witsjokolade gebruik, smelt dit in die mikrogolf totdat dit in ‘n loperige vorm is. Vat dan die sjokoladevorms en sprinkel die witsjokolade in patrone op die binnekant van die sjokoladevorms. Sit dan die vorms in die vrieskas vir ongeveer 5 minute.
  2. Smelt die melk- en donkersjokolade saam in die mikrogolf totdat dit ook loperig is. Gooi dan die gesmelte sjokolades in die sjokoladevorm. Maak seker dat die volle sjokoladevorm in die sjokolademengsel bedek is. Dop die vorm om om van die ekstra sjokolade ontslae te raak. Daar moet dan ‘n dun laag van sjokolade in die sjokoladevorm oorbly. Bêre dit in die vrieskas vir ongeveer 10 minute.
  3. Sit die olyfolie en botter in ‘n pan of kastrol oor medium hitte. Sodra die olie en botter begin sis, voeg die kataifi by en roer dit elke nou en dan rond in die pan om te voorkom dat die kataifi nie brand nie. Hou aan roer totdat die kataifi goudbruin is. Laat toe dat dit afkoel voordat jy dit begin gebruik.
  4. Meng die pistachio en tahini saam in ‘n mengbakkie. Voeg dan die afgekoelde kataifi by.
  5. Skep dan die pistachiomengsel in die sjokoladevorm. Maak seker dat dit eweredig versprei is om kraking te voorkom. 
  6. Gooi dan die res van die sjokolademengsel oor die pistachiovulsel. Maak seker dat die hele mengsel bedek is. Moenie enigsins die sjokolade in die mengsel druk nie. Bêre dit dan in die vrieskas vir ongeveer 20 minute en voila!

Waar kan jy hierdie produkte vind? 

  • Jy kan die kataifi by Mediterranean Delicacies in Montague Gardens kry. As jy nie so ver wil ry nie, kan jy ook filodeeg (phyllo pastry) by Woolworths kry en dit baie dun opsny.
  • Jy kan die pistachiobotter by Komati Foods kry. Hulle het twee takke, een in Observatory en een in Montague Gardens.
  • Jy kan die tahini by Food Lovers Market in Willowbridge vind.
  • Jy kan die sjokoladevorms by Cab Foods in Bellville en by Makro vind.

As jy dalk te lui is om hierdie resep uit te toets, kan jy altyd na Rapt in Kaapstad SBD (sentrale besigheidsdistrik) toe gaan en R500 spandeer om hulle weergawe van FIX se sjokolade te probeer.

Jean-Mari Vos

Jean-Mari is ‘n entoesiastiese meisie, wat graag skryf oor alles waarvan sy hou, soos Formula 1, Stray Kids (die musikante) en vele meer. Haar gunstelingvak is biologie. Sy hou ook baie van piekniek en om aanlyn inkopies te doen.