Dubbelgoud met die Herout

[Amé Breytenbach en Mieke Verster]

Akademie is nog altyd ons besigheid, maar daar is altyd plek vir gees en gesing. Met twee trofees in ons agtersak en akademie en veranderinge wat ons aanhoudend teister, kort ons almal ‘n blaaskans. Gelukkig is die Herout se wenstories hier vir wanneer jy jou sak neersit en jou wiskundeboek toemaak.

As jy bietjie angstig was oor jou eerste dag terug in ons nuwe DF Adademie, verbeel jou hoe ons mossels moes voel om nou in die groot see te moes swem. Gelukkig het ons SR, MR en RVL die mossels vinnig op hulle gemak gekry en vir hierdie groep graad aggies geleer dat DF ‘n plekkie vir almal het. Van aktiwiteite, skooltoere, ‘n ouerbraai en natuurlik die baadjieseremonie, is die mossels, klas van 2030, na ‘n lang week uiteindelik volwaardige Dee-Effers. Gaan lees gerus Angelina Smith, een van ons nuwe graad 8-joernaliste, se artikel oor haar ervaring tydens die oorbrugging.

Met ‘n bedrywige eerste kwartaal, is DTBS definitief ‘n hoogtepunt – nie net vir die leerders nie, maar vir die hele skool. Van elke dag kla dat jou blazer te klein is tot om te wonder of jy die geleentheid gaan kry om ‘n nuwe, ligblou serp op te hou, is DTBS-oefening iets wat ons almal eintlik mis. Aandoefeninge het ons opgewonde gemaak om ons stemme te verloor en Big Brag sal enige Dee-Effer se gemoed verbeter. Op die groot dag, het die trane gespat toe DF weer trots met dubbelgoud uit Groenpunt Stadion se hekke kon stap. Nou loop ons verby die geesbord oorkant juffrou Vercelotti se klas en verlang na die vroeë oggende en laat aande se saam sing. Baie dankie aan elke dirigent, drummer en onderwyser wat elke jaar hierdie geleentheid moontlik maak. Listen Up DF!

Na die afloop van DTBS, het dit gevoel asof al die opwinding nou eers verby is. Akademie het begin ophoop en niemand was heeltemal reg vir al die pret om op te hou nie. Gelukkig was die somerbal om die draai! DF se seniors het hierdie geleentheid tot op die laaste geniet. Die AS is omskep in ‘n storieboekwêreld – definitief ‘n wonderland. Dee-Effers het geskitter in hul glansende rokke, blink skoene en netjiese pakke, maar die feit bly staan: Jy dans soveel lekkerder sonder jou skoene! ‘n Groot dankie aan juffrou Jurgens en haar span wat onsettend hard gewerk het om die aand een te maak wat ons vir baie lank sal onthou.

Die 14de Februarie (of die 13de Februarie soos wat DF dit hierdie jaar moes vier) is gekenmerk deur die reuk van rose en sjokolade wat DF se gange jaarliks vul. Hierdie jaar was almal se rooi strikkies en sokkie-pouse definitief treffers, terwyl ander in spanning gewag het om te sien of hulle liefie uiteindelik ‘n anonieme briefie gestuur het.

So het ons skool ook nou amptelik sy nuwe baadjie aangetrek: DF Akademie staan sterk hier aan die Suiderland, reg vir die volgende hoofstuk. Daarmee saam het meneer Oostuizen hierdie jaar sy DF-storie begin skryf. Ons is bly om hom stukkie vir stukkie te leer ken en te sien watter nalatenskap hy by die Dee-Effers gaan los. Met sy slagspreuk die jaar, “Kies die lig”, is hy verseker besig om die lig in DF se gange uit te bring. Alhoewel DF se waardes dieselfde bly, kan die Herout saamstem dat daar beslis ook baie verander het. Gaan lees gerus Ellie Herbst se artikel om mede-leerders se opinie hieroor te ontdek.

DF se sport is ook iets om na uit te sien hierdie jaar, met proewe vir ons wintersportsoorte alreeds aan die gang. Ons atlete kon ook by DTBS skitter in verskeie baan- en velditems en alhoewel DF vierde gekom het, was hierdie bloubloed familie baie trots op elke atleet. Verder is ons krieketinterskole en landloopbyeenkomste definitief iets om te gaan ondersteun, terwyl ons wag vir ons hokkie-, rugby- en netbalseisoen om te begin.

Met ‘n kwartaal wat teen ‘n vinnige tempo weggetrek het, bevind ons onsself al hoe nader aan een van die spoggerigste geleenthede op die DF-kalender: Mnr. en Mej. DF. Met die tema “Fire and Ice” gaan die deelnemers verseker die verhoog aan die brand steek. Die markdag, wat reeds sy draai gemaak het, was propvol lekkergoed en lekker herinneringe. Met soet en sout en alles tussenin, was daar beslis iets om almal se lus te bevredig. Baie sterkte aan al die deelnemers – van die Herout se kant af hoop ons dat julle hierdie tyd altyd sal onthou.

Met ‘n kwartaal vol goue oomblikke, gee die Herout vir jou ‘n goeie terugblik van al die aksie. As jy weer daardie wengevoel, geheime protea of opwindende eerste week wil onthou, sit vir ‘n oomblik jou boeke weg en neem ‘n ruskans met die Herout.

Amé Breytenbach & Mieke Verster

Amé is ‘n graad 11-leerder wat lief is vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.

Mieke is ‘n graad 12-leerder wat ontdek het dat koffie jou beste maatjie moet word as jy matriek wil slaag. Sy het ‘n liefde vir netbal, dans, om tyd met familie te spandeer en om die Herout se spelfoute reg te maak.