Durf die nuwe jaar met waagmoed aan 

[Caylin Parker]

Terug in die klaskamer, warm en moeg … nog net nege maande tot en met Desember. Of as ‘n mens dit regtig tragies wil laat klink, nog net 276 dae! 

Vir die meeste van ons is iets eenvoudigs, soos die gepaste slaapskedule, ‘n uitdaging na die lang vakansie. Wat nog te sê van die regte ingesteldheid vir die jaar 2025? Ons verlang terug na die sorgvrye somersdae waar ons heeldag op die strand kon vertoef. Die realiteit van ons dae, huidiglik, is egter om in ‘n beknopte saal te sit waar jy vir twee ure lank jou skoolbaadjie oop en toe moet maak.

Ek dink ons almal kan saamstem oor een ding – om terug op spoor te kom na ‘n lang vakansie kan oorstimulerend wees en jy kan heeltemal oorweldig voel met alles wat op jou wag in die nuwe jaar. As jy sukkel daarmee, mag hierdie artikel jou dalk net help. 

Een van die beste wenke om te volg vir wanneer jy weer aan die gang moet kom, is om te prioritiseer en deeglik te beplan. Om ‘n lys te maak van alles wat jy moet doen en afhandel, kan jou stres baie verminder en jou rustiger laat voel. Vir ons tieners is dit ongelukkig baie moeilik om ‘n gesonde balans te vind tussen ons sosiale lewe en skoolverantwoordelikhede. Dit is tog immers baie lekkerder om sosiaal te verkeer as om skoolwerk te doen. Ons generasie is die definisie van uitstel. Om die goeie gewoonte te kweek waar jy kan prioritiseer, kan jou dalk net in staat stel om jou doelwitte te bereik. Veral dié waarvoor jy al so lank gewerk het.

Dis maklik om te sê jy kan prioritiseer, maar om dit werklik te doen, is ‘n groter uitdaging. As skoliere, wat almal eendag ‘n sukses wil maak en ‘n goeie beroep van ons keuse wil volg, behoort akademie en studies ons hoofprioriteit te wees. Wanneer dit tyd is om akademies te verkeer, sal jy daarby baat om goed te vermy wat jou aandag kan verdeel en eerder te fokus op jou studies. Niemand van ons wil sosiale aangeleenthede misloop nie, want die meeste van ons ly ongelukkig aan FOMO (fear of missing out).

Dit is juis dan wanneer jy eerder moet fokus op die toekoms en jouself moet herinner wat goeie akademiese punte vir jou sal beteken.

Om jouself te beloon met klein dinge vir take wat gedoen is, is een manier om jouself te motiveer om jou doelwitte te bereik. Dit is makliker om konstant te bly wanneer jy iets het om voor te werk. Afhangend van wat makliker vir jou werk kan jy daaglikse, weeklikse of maandelikse belonings opstel. Of dit nou is om jouself ‘n dag af te gee, ‘n dag uit te beplan of om ‘n vriend of vriendin vir koffie te kry, is dit makliker om te werk as jy iets het om na uit te sien. 

‘n Mens kan ook net jou optimale breinkapasiteit gebruik as jy ‘n skoon kop het. Oefening is die beste medisyne vir konsentrasie. Al is dit net om rondom die blok te stap of te draf vir 15 minute, oefening verbeter werklik jou konsentrasie. Volgens HelpGuide.org is dit die endorfiene wat jou brein vrystel tydens oefening wat maak dat jy beter voel en meer energie het om te fokus. Volgens navorsing verbeter oefening die bloedvloei na jou brein, wat jou neurone aan die gang kry wat selgroei tot gevolg het. Dit beteken dat omtrent net 20 minute se oefening kan lei tot ‘n merkwaardige verbetering van jou konsentrasie. Om gebrek aan tyd as ‘n verskoning te gebruik om nie te oefen nie, behoort taboe te wees. Die 20 minute wat jy op jou selfoon spandeer tydens jou studiebreek kan baie beter benut word deur rondom die blok te draf. Nie net gaan dit jou konsentrasie verbeter nie, maar dit is ook fantasties vir jou gesondheid.  

Al hierdie wenke mag dalk nou waardeloos en soos baie moeite voel. Die meeste van ons  verkies om eerder dinge te hou soos dit nou is en dan hoop ons om op een of ander stadium ‘n oplewing van produktiwiteit te kry. Die realiteit is egter dat niks gaan gebeur tensy ons dit laat gebeur nie. Om 276 dae af te tel tot en met die volgende lang vakansie gaan jou binne ‘n maand of twee baie depressief en neerslagtig laat voel.

Benut elke oomblik en werk hard. Voor jy jou oë uitvee, is dit weer 1 Desember. Wat gaan jy hê om te wys vir jou 276 dae wat jy gehad het? Dis beter om die jaar af te sluit met goeie punte, dan sal jy jou vakansie terdeë geniet. 

Ten slotte, laat ek nie die belangrikste wenk vergeet nie: Begin klein, vat dit dag vir dag, vak vir vak. Maak ‘n lys en werk dit van bo af deur. Om volstoom weg te trek, gaan veroorsaak dat jy teen Junie uitgebrand is. Dit is normaal om onproduktief en lui te voel na die vakansie, dit is deel van die menslike natuur en sal seker nooit verander nie. Jy tel nie eens ‘n pen op gedurende die vakansie nie. Dit is onrealisties om net in te spring in jou studies teen dieselfde tempo as wat jy afgesluit het voor die vakansie. Ons moenie te hoë standaarde vir onsself stel nie, maar eerder vir onsself tyd gee om aan te pas. Jou geestelike gesondheid is immers die belangrikste van alles en alles wentel eintlik daarom. 

Dus my beste wenk, en een wat die internet nie vir jou gee nie: werk hard maar doen dit teen jou eie pas.

Caylin Parker

  Caylin se gunstelingvak is kuns en sy hou daarvan om kreatief te werk.