Emma (2020): ‘n Fliek wat jou hart sal steel

Mignon Roux

Alhoewel hierdie Autumn de Wilde-fliek meer as twee jaar terug vrygestel is, verdien dit nog steeds vandag erkenning. 

Vanaf die mooi pastelle tot die onvergeetlike danstoneel, beeld hierdie fliek die 1800’s pragtig uit. Gebasseer op die boek deur Jane Austen, het die toneelspan hulself oortref deur die mooi aandag aan detail en onberispelike kostuums.

Die bekende The Queens Gambit-aktrise, Anja Taylor Joy kon nie haar rol as Emma beter vertolk het nie. Daar wag ook ‘n blink toekoms op Mia Goth wat beïndruk het met haar kragtige toneelspel as Harriet Smith.

Emma gaan oor die hoofkarakter, Emma Woodhouse. Sy is ‘n jong vrou wat goeie bedoelings het, maar konstant in haar vriendinne se liefdeslewens inmeng en kies met wie hulle mag of nie mag trou nie. Emma word uitgebeeld as die vrou met wie al die mans wil trou, maar sy het ‘n ander doel vir haarself. Sy is vasberade om die matchmaker van haar klein dorpie, Highbury, te wees.

Nadat haar vriendin, Miss Taylor (met Emma se hulp) trou, voel Emma nutteloos en besluit om ‘n nuwe projek aan te pak. Hierdie projek fokus op een van die leerders by mevrou Goddard se skool vir jong dames, Harriet Smith. Dié 17-jarige is reeds dolverlief op die jong boerseun, Robert Martin, maar Emma het ander planne.

Van ‘n baie interessante liefdesdriehoek tot ‘n groot misverstand, is daar regtig geen aspekte van hierdie fliek wat jy kan haat nie. Die een ding wat selfs beter as die fliek én die boek is, is die verstommende klankbaan wat die storie goofy maak, maar op ‘n goeie manier. 

Ek sal voorstel dat jy die boek eers lees, want dan kan jy nog meer verlief raak op hierdie merkwaardige storie en die karakters wat hulself daarin bevind. As jy baie van die Austenverse hou, gaan jy beslis nie ‘n beter fliek vind nie.