[Mignon Roux]
Met die naderende somerseisoen, sien almal uit om uiteindelik te swem en strand toe te gaan. Ongelukkig is dit nog lente, so hier is TV-reekse en films waarna jy kan kyk om die somer vinniger te laat kom.
The Summer I Turned Pretty (Amazon Prime)
Gebasseer op die boekreeks met dieselfde titel deur Jenny Han, neem die reeks jou terug na die dae van roomys en die sout lug. Met ‘n ongelooflike klankbaan en ‘n baie interessante liefdesdriehoek, sal tieners mal wees oor hierdie reeks. Daar is al twee seisoene uit en ‘n derde reeks, wat die laaste een sal wees, is reeds geskeduleer.
Vir Isabel “Belly” Conklin, bestaan daar nie ‘n ander seisoen as somer nie en sy meet haar lewe in somers. Sy spandeer elke jaar haar hele somervakansie in Cousins Beach saam met haar ma en broer en haar ma se beste vriendin met haar twee seuns, Conrad en Jeremiah. Sy is al haar hele lewe lank verlief op Conrad en tydens hierdie besonderse somer verander alles vir haar.
Luca (Disney+)
Genomineer vir die beste animasiefilm by die Oscars, voer die pragtige film jou weg na die asemrowende strate van ‘n klein dorpie in Italië en gee jou die begeerte om dadelik op ‘n vliegtuig te klim en daarheen te vlieg.
Luca, ‘n seemonster, word vriende met die avontuurlustige Alberto. Terwyl hy sy ouers in die duister hou, is hy besig om ‘n opwindende en onvergeetbare somer te ervaar met nuwe vriende wat hy op die land gemaak het.
Outer Banks (Netflix)
Outer Banks is ‘n Amerikaanse TV-reeks vir tieners wat hou van aksie, avontuur, raaisels en drama. Daar is sover drie reekse en daar is ‘n vierde reeks op pad.
Die populêre reeks speel af in ‘n kusdorpie langs die Outer Banks van Noord-Carolina, waar daar ‘n spannende sosiale skeiding is tussen die ryk seisoenale inwoners en die werkersklas inwoners. Hulle word die Kooks en die Pogues genoem. Die program volg ‘n groep Pogue-tieners wat by The Cut woon en vasbeslote is om uit te vind wat met hulle leier, John B, se vermiste pa gebeur het.
Langs die pad ontdek hulle ‘n legendariese skat wat aan John B se pa gekoppel is. Terwyl hulle gejaag word deur die gereg en die Kooks van Figure Eight, poog die Pogues om struikelblokke soos liefde, bakleiery, vriendskap en geld te oorkom.
Mamma Mia! (Amazon Prime)
Meng ABBA-musiek, ongelooflike Griekse strande en Meryl Streep wat sing en dans, dan het jy die resep vir ‘n perfekte somerfliekaand. En as jy nie genoeg gekry het van die eerste een nie, is daar Mamma Mia! Here We Go Again! wat vir jou wag.
Donna, ’n onafhanklike hoteleienaar in die Griekse eilande, berei met die hulp van twee ou vriende voor vir haar dogter, Sophie se troue. Die geesdriftige bruid het wel ‘n plan. Sy nooi in die geheim, drie mans uit haar ma se verlede in die hoop om haar regte pa te ontmoet sodat hy haar op haar groot dag in die paadjie na die kansel kan begelei.
Dit is een van die grootste raaisels in filmgeskiedenis en mense wonder nog steeds wie Sophie se regte pa is.
Noudat jou TV-reekse en films vir die somer vir jou beplan is, kan jy net op die bank voor die TV sit met die hoop dat die somer so vinnig as moontlik sal kom.
[Foto: Yana Mans]
Mignon Roux
Mignon is baie lief vir haar twee katte en kyk graag Formule 1 op Sondae. Sy hou ongelukkig baie van Ferrari en spandeer die res van haar week om ‘n beter stokperdjie te soek.