Gebaretaal  – ‘n taal sonder klank

[Erica Chen]

Ongeveer 4 miljoen mense in Suid-Afrika is doof of hardhorend en sukkel dus om te kommunikeer. Gebaretaal is baie belangrik in vandag se samelewing en speel ‘n groot rol in kommunikasie. Met meer as 1.5 biljoen mense in die wêreld wat sukkel met gehoorprobleme, gebruik hierdie mense ander metodes om te kommunikeer.

Hoekom moet jy gebaretaal leer?

Gebaretaal is nie net vir mense wat hardhorend of doof is nie.

Jy kan ander mense help interpreteer. Deur gebaretaal te leer, kan jy talle mense ontmoet en help waar nodig. Alhoewel dit belangrik is om mense te help, onthou om eers toestemming te vra voordat jy inspring en begin om tehelp. Hulle gaan nie noodwendig gelukkig wees wanneer jy spontaan begin inmeng nie.

Om gebaretaal te leer, maak vir jou talle deure oop. As jy belangstel om tydens die vakansie te werk, kan jy as ‘n tolk optree en geld verdien. Die aanvraag na tolke is baie hoog aangesien baie min horende mense gebaretaal ken. 

Indien jy eendag kinders wil hê, kan jy vanaf ‘n vroeë ouderdom vir hulle gebaretaal leer en met hulle kommunikeer voordat hulle kan praat. Om vir babas gebaretaal te leer, lei tot baie voordele wat hulle alledaagse lewens kan verbeter en hulle toekoms ophelder. Hulle sal grootword met ‘n meer kreatiewe denkwyse en beter probleemoplossingsvaardighede aanleer.

Hierdie kinders sal minder gefrustreerd word, omdat hulle gemaklik met ander sal kan kommunikeer en presies wys wat hulle benodig.

Hoe kan jy gebaretaal leer?

  1. Besluit watter streek se gebaretaal jy wil leer

Onthou, verskillende lande het verskillende vorme van gebaretaal. Alhoewel sommige bewegings van ‘n spesifieke land se gebaretaal kan oorvleuel met ‘n ander land s’n, kan aspekte soos sinkonstruksie, bewegings of styl baie verskil. Dus is dit belangrik om te weet watter streek se gebaretaal jy wil leer. Hou jou toekoms en wat meer relevant is vir jou in gedagte voordat jy wegspring. 

  • Leer verkieslik by ‘n dowe persoon

Indien dit nie moontlik is om by ‘n dowe persoon te leer nie, is dit ook reg, maar daar sal uitdagings wees. Deur by ‘n dowe persoon te leer, sal jy meer akkuraat kan kommunikeer en gemaklik voel wanneer jy met ander dowe mense praat. Dit gee jou ook meer insig en ‘n beter gevoel vir die taal.

  • Gebruik die internet as ‘n bron

Die internet het ‘n magdom hoeveelheid artikels, video’s, boeke en talle ander hulpbronne wat jou kan help om meer te leer oor gebaretaal. Indien jy oor enigiets onseker is, is die internet altyd daar om jou te help. Alhoewel die internet ‘n goeie bron is om gebaretaal te leer, is daar die nadeel dat jy nie kan oefen om met ander mense te praat nie. Daar is wel geleenthede om aanlyn klasse by te woon sodat jy kan leer om met ander deur behulp van gebaretaal te kommunikeer.

Interessante feite oor gebaretaal

‘n Paar mense het al gevind dat alhoewel hulle dieselfde streek se gebaretaal praat, byvoorbeeld BSL (British Sign Language), praat hulle verskillend. Dit is omdat daar ook verskillende aksente of dialekte in gebaretaal is. Dit beteken dat verskillende streke se gebaretaal, klem plaas op verskillende bewegings. Byvoorbeeld, om sekere bewegings groter te maak as ander.

Nou is dit tyd vir jou om gebaretaal jou derde, vierde of vyfde taal te maak!


Erica Chen

Erica se gunstelingvakke is gewoonlik die vakke waarin sy sleg vaar of sy kan net nie die taal praat nie. Twee interessante feite oor Erica is dat sy Taiwanees is en dat haar hondjie, Teddy, die oulikste is.