Gebrokehartsindroom: nie ‘n mite

Emma du Toit

Die biologieleerders weet baie van diabetes, kardiovaskulêre stelsels en pulmonêre sirkulasie. Maar wie weet wat gebrokehartsindroom is?

Gebrokehartsindroom staan ook bekend as kardiomiopatie en kan in beide gesonde en ongesonde individue voorkom. Kardiomiopatie, soos vir die eerste keer in die 1990’s in Japannese mediese literatuur beskryf, is ‘n tydelike hartsiekte wat lyk en voel soos ‘n hartaanval. Dit word dikwels veroorsaak deur emosionele situasies, soos die afsterf van ‘n geliefde of die beëindiging van ‘n verhouding.

Naomi Eisenbuerger, assistent-professor in Sielkunde aan die Universiteit van Kalifornië,verduidelik die onderwerp deeglik aan Women’s Health Magazine . Volgens haar reageer dieselfde gedeelte van jou brein op fisiese pyn as wanneer jy ly aan sosiale verwerping. So, as jy dink jy haat verwerping, jou brein haat dit meer.

Wanneer jy verlief is, word jou brein gevul met die neurochemikalieë, dopamien en oksitoksien. Hierdie hormone is verantwoordelik vir jou geluk en plesier. Wanneer jy egter deur ‘n emosionele fase gaan, word jy ‘n slagoffer van streshormone. Jou brein pomp jou liggaam vol kortisol en epinefrien.

‘n Oorvloed van kortisol veroorsaak ‘n oormaat van bloed na jou spiere wat dan vêrder lei na angs. Die gevolge daarvan sluit geswelde spiere, hoofpyne, ‘n stywe nek en ‘ndruksensasie in jou bors in.

Tog is daar goeie nuus. Gebrokehartsindroom is in die meeste gevalle behandelbaar. Die meeste pasiënte herstel binne weke en loop ‘n lae risiko om weer die sindroom te kry. Dee-Effers, kyk mooi na julle emosionele welstand en staan jou vriende in die moeilike tye by. Wees waaksaam oor wat jy sê en hoe jy in situasies optree. So kan ons emosionele tye hanteer en gebrokehartsindroom voorkom.