Geestesgesondheid: Hoe om jou vriende te ondersteun 

[Ellie Herbst]

Jy het seker al duisende kere gehoor wat om te doen as iemand beseer of fisies siek is, maar wat as ’n vriend of familielid met hul geestesgesondheid sukkel? Wie bel jy? Wat doen jy om hulle te ondersteun? Dit is nie asof daar ’n ambulans vir geestesgesondheid is nie. Om meer insig te kry oor geestesgesondheid, het ek ’n onderhoud met dr. Karen Maré, ’n psigiater verbonde aan die Universiteit Kaapstad se departement van psigiatrie en geestesgesondheid, gevoer.

Wat is die onwikkelingsmylpale in adolessensie?

Volgens dr. Maré moet tieners akademies ontwikkel in ’n rigting wat hulle eendag hul loopbaan wil maak. Hulle moet sosiaal ontwikkel om vriende te maak en te behou. Hulle verhoudingslewe moet onwikkel. Tieners moet gesonde gewoontes vestig, soos om genoeg te slaap en gesond te eet. Dit is belangrik, want tieners is meer in beheer van hulle gewoontes soos wat hulle ouer word. Daar is baie druk op tieners van vandag, want die wêreld is nogal kompleks.

Wat veroorsaak dat mense geestesversteurings ontwikkel?

Met haar jarelange ervaring, het dr. Maré gevind dat daar nooit ’n eenvoudige antwoord op daardie vraag is nie, want daar is verskeie faktore wat saamwerk. Gene kan veroorsaak dat party siektes meer algemeen in ’n familie is. Daar is ook sielkundige faktore, soos byvoorbeeld oormatige kritiese ouers, en sosiale faktore, soos as jy geboelie word. Daar is baie ander faktore, maar dié is ’n paar voorbeelde.

Hoe verskil geestesversteurings van ons alledaagse probleme?

Dr. Maré sê vervolgens dat dit normaal is om so nou en dan te sukkel om te konsentreer of om rusteloos te voel. En dit is normaal om nou en dan angstig of gespanne te voel. Almal voel nou en dan hartseer. Dit is deel van menswees. Mens begin bekommerd word wanneer die probleem vir lang tydperke aanhou en wanneer dit jou funksionering, by die skool of by die huis, en jou verhoudings beïnvloed.

Hoe word geestesversteurings behandel?

In haar praktyk, vind dr. Maré dat dit oor die algemeen ’n kombinasie van medikasie en psigoterapie is wat die beste manier is om dit aan te pak. Die medikasie kan help om depressie minder intens te maak of erge angs ’n bietjie te verlig. Die terapie help om hanteringsvaardighede  of kalmeringstegnieke aan te leer en te werk aan hoe jy die lewe en jouself sien. Hierdie insig wat jy kry in jou eie gedrag en gedagtes is deel van wat psigoterapie so goed maak.

Watter geestesversteurings is algemeen onder tieners?

ADHD (aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom)

ADHD word gewoonlik gediagnoseer in mense se kinderjare wanneer die kinders sukkel om te fokus, hiperaktief is en impulsief is. Dit kan tieners se akademie en verhoudings met hul vriende affekteer.

In ’n onderhoud met DF-leerder, Anrie Vermeulen het sy haar ervaring met ADHD beskryf: “Dit is nie regtig ’n emosie of ’n gevoel nie. Jy kom dit eintlik nie regtig agter nie, dit is net deel van hoe jy dink. Ja, ek moet I-sentrum toe gaan om toetse te skryf sodat my aandag nie afgetrek word nie. Ja, dit is vir party mense met ADHD moeiliker om vriende te maak omdat jy anders dink. Daar is ook positiewe aspekte. Ek kan makliker prente visualiseer en dit help om aan kreatiewe oplossings vir probleme te dink. So dit is maar net … daar.”

Algemene angsversteuring

Soos voorheen genoem, is dit normaal vir tieners om angstig te voel, maar wanneer jy konstant en oormatig angstig voel, is dit nie gesond nie.

Angsversteurings is die algemeenste geestesversteuring ter wêreld. Mense met angsversteurings kan sukkel om te fokus of besluite te neem omdat hulle angstig is dat hulle foute sal maak. Daar is ook fisiese simptome, soos naarheid of ongemak. Mense kry partykeer as gevolg van angsversteurings paniekaanvalle.

Depressie

Depressie is ’n geestesversteuring met ’n oorweldigende gevoel van hartseer en/of hulpeloosheid. Daar is verskillende tipes depressie – byvoorbeeld party mense slaap en eet meer en voel doodmoeg en ander slaap en eet minder en voel geïrriteerd. Depressielyers ervaar dinge verskillend, omdat almal met geestesgesondheidsprobleme uniek is. In sommige gevalle is die depressie ’n konstante onderliggende gevoel en in ander gevalle is daar tydperke waar dit erger is. 

Dr. Maré vind dat depressie in tieners anders kan wees as in volwassenes. Dit is meer algemeen in tieners dat hulle uiters geïrriteerd is as wat hulle depressief voel of optree.

Middelmisbruik

Middelmisbruik is die oormatige en gevaarlike gebruik van ontspanningsmiddels, soos drank of dwelms. 

Dr. Maré het vervolgens bevind dat die tienerjare die tydperk is waar tieners meer vryheid het en begin om te eksperimenteer. Party kinders is meer vatbaar vir groepsdruk, wat hulle in moeilike en gevaarlike situasies laat beland. Alkohol en dwelms is nie gesond vir ’n groeiende brein nie en dit kan onderliggende geestesprobleme na vore bring. Te veel alkohol kan bv. depressie veroorsaak en die kombinasie van dagga en sekere gene kan psigose (verlies van kontak met die werklikheid) veroorsaak.

Eetversteurings

Eetversteurings affekteer hoe jy voel oor jou lyf en wat ons eet. Dit veroorsaak gewoonlik óf dat ’n mens te veel eet, bv. bulimie óf te min eet, bv. anoreksie. Dit is algemeen gekoppel aan ons selfbeeld, spesifiek te doen met hoe jy lyk. Oor die langtermyn het dit baie negatiewe effekte op jou gesondheid. Anoreksie kan byvoorbeeld lei tot lae bloeddruk, moegheid en stadiger ontwikkeling.

Waar en by wie moet jy hulp kry?

Dr. Maré moedig tieners aan om mekaar te ondersteun, maar jy moet altyd ’n ouer, onderwyser of ander betroubare volwassene vra vir hulp. Hulle kan jou na ’n algemene praktisyn neem wat van daar af vir jou ’n psigiater kan aanbeveel indien nodig. 

Hoe ondersteun jy mense met geestesversteurings? 

Dit is belangrik om te onthou dat almal hul eie ervarings het met hul geestesgesondheid. Die beste manier om hulle te ondersteun, is om vir hulle te vra wat jy kan doen. As jy byvoorbeeld weet dat ’n vriend paniekaanvalle kry, vra vir hulle oor hul kalmeringstegnieke sodat jy nie per ongeluk die situasie tydens ’n paniekaanval vererger nie.

As hulle nie weet nie, wees net beskikbaar. Wees daar om met hulle te praat as hulle met iemand wil praat of lei hul aandag af van hul probleme as hulle eerder nie daaroor wil dink nie. Stuur vir hulle ’n boodskap in die oggende. Dit kan ’n inspirerende aanhaling wees, ’n paar sinne waar jy vir hulle sê dat jy hulle sal ondersteun of dat jy in hulle glo of selfs die snaakse katvideo waaroor jy gelag het die vorige dag. Moedig hulle aan om hulp te kry by ’n psigiater, gaan saam met hulle na die kantoor as hulle bang is en maak net seker hulle weet dat hulle jou kan vertrou.

Dr. Maré sê vervolgens dat dit baie belangrik is vir tieners dat mense van hulle eie portuurgroep hulle ondersteun. Ons moet probeer om mekaar volkome te aanvaar sonder om mekaar te oordeel. Moenie probeer sê dat dit “nie so erg” is nie. Probeer om meer te luister as wat jy praat. Gee vir tieners ’n veilige spasie om te praat en moenie uitpraat as iemand jou in hulle vertroue neem nie (maar maak seker ’n volwassene is betrokke). Verseker hulle van jou ondersteuning en dat dit nie julle vriendskap sal beïnvloed nie.

Hoe kan tieners hul geestesgesondheid verbeter?

Dr. Maré besef dat dit baie makliker gesê as gedaan is. Kyk mooi na jou fisiese gesondheid, want dit is nie apart van jou geestegesondheid nie. Slaap genoeg, eet genoeg, kry genoeg oefening, bly weg van dwelms – al die basiese dinge vir goeie gesondheid moet gedoen word. Sosiale media is nie baie goed vir jou selfbeeld of jou konsentrasie nie, so probeer om dit te beperk. Handhaaf ’n goeie balans tussen sosiale media en regte sosiale kontak met mense van aangesig tot aangesig en ook tyd in die natuur. Kies stokperdjies wat vreugde en pret in jou lewe bring. Doen dinge om ander mense te help wanneer jy kan. Identifiseer ouer en wyser mense vir wie jy om raad kan vra of net dinge mee kan deurpraat.

Vir meer informasie oor geestesgesondheid, kan jy die volgende webwerwe besoek:

https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/adolescent-mental-health

https://www.sadag.org

Ellie Herbst

Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.